Wind en weer

Julle moes nou al gelees het dat ek by Cornwall was. Nou weet ek ook van Cornwall en met die weer wat ons gehad het, was dit beslis nie ‘n lekker plek nie. Oppad soontoe het ek eerstens die koeie gesien slaap – sommer so langs ‘n besige snelweg, maar darem ‘n hele entjie daarvandaan, die foto lyk maar net so bietjie naby geneem. Die karpaadjie is op die plaas waar die B&B is – sien die vorige inskrywing daaroor. Op die plaas was Jack en Jen en Jack was die hele tyd in my face en ek dink dis die dat ek net-nie vat aan hom kon kry nie. Die asblik met die plakker het ons langs die pad gekry, by een van die stoppe – dit word Services genoem. Op die laaste foto is ek by die Eden Projek en julle kan sien hoe moeg lyk ek. Ek het in die kar saam met Poplap gewag – sy was die vorige dag daar – en ek wou net huistoe gaan, die weer was net nie ‘n vakansie-weer nie en Ounooi het ook gevoel dat Cornwall nie ‘n lekker plek is as dit so reënerig en winderig is nie.

Al die veld is vrolik

Ons het twee dae terug weer Ounooi ‘n ander stappaadjie gaan wys. Hier is so baie stappaadjies en as jy eers begin stap, voel dit vir jou asof jy iewers op ‘n plaas rondloop. Poplap was natuurlik opgewonde, want ‘n gedeelte van hierdie paadjie het sy saam met maats so drie jaar terug gestap toe hulle op hul eie gelaat was. Sy was besig met die Duke of Edinburgh-award en deel daarvan was om ‘n kamp te doen. Julle kan oor die DoE-award meer hier lees. Dis ‘n drie-jaar program en die toekennings begin van brons na goud.

Om ‘n hond te wees in hierdie bos is groot werk, want die familie stap nie heeltyd saam nie, Poplap is heeltemal te fiks vir die res en ek moet net heeltyd tussen die twee groepe hardloop om seker te maak almal agter is nog wel! Op hierdie foto kan jul vir Poplap ver vorentoe so half en half sien.

Sjoe, dis darem mooi hoor!

Hierdie is pragtige perde. Hulle is so mak, hulle kom eintlik nader na jou toe sodra hulle jou sien aankom. Hulle moet baie van mense hou, want hulle laat jou toe om byna tot teenaan hulle te kom.

Pienk blomme. Ounooi sê sy is baie sleg met blomname, in Suid-Afrika al was sy so, dus met die Engelse s’n sal sy pateties wees! Sy sê haar ma het ‘n blom/plant net een kyk gekyk en dadelik geweet wat die naam was en sy het al so baie keer gewens sy was ook so met plant/blomname!

‘n Lekker tonneltjie – wat die bos vorm.

Hier loer ons deur na lande wat lyk asof daar koring geplant is, maar dit is nie koring nie.

Iemand het 30 jaar oud geword en sy/haar ballon hier vergeet! Ai, die morsjorse!

Sjoe, kyk net hoe hang my tong uit. Darem word daar vir my gestop sodat ek ‘n tweede asem kan skep en net my tong weer korter kan maak.

Poplap is stout! Hier sit sy in die boom op ‘n tak en ek kan nie opklim nie!

Hierdie mense is kwaai. Hulle sê jy mag net hier afstap wanneer die hekke oop is…sjoe. Gelukkig is die hekke oop en kan ons afloop.

‘n Lekker loer-plekkie.

En nog ‘n loer-plekkie. Ek wonder of julle die stofwolkie kan sien wat daar trek? Hierdie land is so vol klippe! Die arme boer sukkel seker sy dinges af om van die klippe ontslae te raak.

Hier is die boer! Die trekker was eintlik seker so ‘n halwe myl van ons af! Gelukkig met die kamera kan mens als nader bring…en lyk dit asof ons by hom was. Ounooi was so vinnig om die foto te neem.

Ai, Ounooi het gedink die foto is nogal kleurvol.

Die een ook! Gelukkig het ek ver weg gebly van die steek-goete af. Poplap is morsdoodbang vir die goeters en Boeta hardloop dat jy net sien stof trek as hy die woord by hoor! Hulle altwee is soos magnete as dit by bye kom en ek weet al om die goeters sommer stukkend te byt as hulle naby hulle kom.

Nog mooi pers blomme met hul saad wat soos wolle lyk.

Mooi pienk blommetjie, né?

‘n Ou gebou. Dit lyk nie asof dit vir iets gebruik word nie.

Ounooi het nog gedink hierdie lyk soos ‘n private mini-golfbaan, toe help Boeta haar reg en sê dis waar die plaaslike miniatuur-vliegtuigliefhebbers bymekaar kom. Dit is sommer so klein stukkie landingstrokie, dat dit lyk asof daar net-net vyf persone daarop gaan pas met hul speelgoedjies.

‘n Soenhekkie – kissing gate.

Hier kom die Skim!

Ligene – mooi geel

Hierdie lyk na ‘n mooi patroontjie van ligene.

Hierdie sak werk amper soos ‘n Skip. Ek wonder of julle daarop kan lees. Dis ‘n Hippo-Bag.  Al die takkies langsaan moet seker daarin gaan.

AL DIE VELD IS VROLIK

Woorde: C. LOUIS LEIPOLDT
Musiek: J. WEBER; verwerk: PIETER DE VILLIERS

Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.

[KOOR]
Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!

Selfs die vissies spartel teen die kafferskuil;
in die groot ou eikeboom droom ‘n oupa-uil.
Oral in Karooland is ‘n ruik versprei:
boegoeblom en appelkoos–kan jy beter kry?

[KOOR]
Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!

Bind vir my tesame katjiepiering wit,
bobbejaantjies blou en bont, rose in gelid,
varings van die klippe, oral, ai só mooi,
rooi kalkoentjies uit die vlei–blomme uitgestrooi.

[KOOR]
Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!

Vrolik is die wêreld, vrolik rant en vlei!
Elke koggelmannetjie het sy maat gekry.
Elke gons’rig’ goggatjie is getroud of vry:
vrolik is die wêreld hier, vrolik veld en vlei!

[KOOR]
Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!

As jy weet hoe om “background sound” op ‘n site te gebruik, hier is ‘n gedeelte van die link wat jy gebruik en die res is die website-link hierna. Dan kan jy die musiek wat jy op die link hoor, gebruik. Geniet dit.

<bgsound src=”../midi/052.mid” loop=”-1″>

http://www.busyhands.co.za/lyrics/la_aldieveld.htm

Water! Water! Water!

Sjoe, ons het ‘n paar baie warm dae gehad en ek kon die hitte net nie meer weerstaan nie. Soos julle hier sien, geniet ek myself gate uit met die sproeier wat Oubaas vir my opgekoppel het. Natuurlik kon ek dit nie vir te lank doen nie, want anders sou ek sopnat gewees het, maar ai, dit was groot lekkerte!

Ou hekke, trekkers en Red Arrows

Gister het die hele fadamily met my gaan stap, baie naby waar ons bly en met ‘n ompad ‘n roete teruggekom wat ek al baie goed ken. Hier het Oubaas my afgeneem waar ek vir ‘n ou trekker gesit en kyk het, maar ai, toe het ek te vinnig my kop weggeswaai en het hy my gemis waar ek vir die trekker gekyk het!

Hier is die trekker…mooi né! Kyk net die baie klein, fyn blommetjies…geel en wit.

Ek het perde ook gesien!

Hier het Oubaas my gevang waar ek dit geniet het om tussen hom en Ounooi en die twee kinders heen-en-weer te draf. Poplap en Boeta is voor in die pad, baie ver – by die huise op die foto, sit hulle en hardloop ek myself ‘n papie tussen die twee groepe, maar ek hoop Ounooi onthou om te se dat ek dit erg geniet het. Dit was vir my soos ‘n speletjie.

Ounooi het baie van die spul hekke gehou en Oubaas moes net bont staan met sy selfoon om af te neem. Sy het haar kamera nie saamgebring nie en Oubaas was naderhand lam gewees van al die opdragte.

Nog ‘n hek.

En nog ene.

Hierdie foto het Ounooi vandag geneem. Dit was die Queen wat die “trooping of the colours” ge-accept het. [dit was haar verjaardagvieringe] Die Red Arrows -[soos die Silver Valke] party mense by Ounooi se skool praat van Dead Sparrows…haha…het oor ons huis gevlieg! Hierdie was die laaste groepie van sowat 4 verbyvlugte. Eers het daar groepe van 3 gekom wat gelyk het asof hulle vlieg soos 1, toe ‘n grote met 2 kleineres. Oubaas het gedink hulle het goed gevlieg. Dit was net een baie groot geraas!

Bahonne Bahonne!

DSC00801

Aitsa! Ek is gekies vir die Bahonne Bahonne team! Hier is my nuwe bal – nogal Action Ball – nou gaan julle my in aksie sien! [Oubaas sê dis die Bampša Bampša-team, want  mpša is Sotho vir honne, maar ek hou meer van ‘honne’]

DSC00802

Posisie 1 – linker poot voor…

DSC00803

Posisie 2 – laag afbuk!

DSC00813

Posisie 3 – en rol!

DSC00817

Posisie 4 – en lê!

DSC00805

Posisie 5 – en hardloop vorentoe, jou lyf baie reguit!

DSC00812

Posisie 6 – regterpoot op – hou vir wat jy kan!

DSC00820

Posisie 7- en RUS! – nou ken jy ook die Diski-dans! Probeer gerus! Resultate die moeite werd!

Vandag

DSC00748DSC00749

DSC00750DSC00745

Oubaas is besig om sy baadjie te kry en ek hoor die woord “stap” en kan nie wag om te kyk wat by die voordeur gebeur nie. Ounooi wil net heeltyd hê ek moet vir die kamera kyk! Ai, weet sy nie dat ‘n honne wil stap as ‘n honne wil stap nie!

DSC00751

DSC00753

Die twee borde sê als wat hulle moet sê. Ounooi het selfs ‘n foto vir die mense geneem om te wys dis nie ek wat sonder ‘n halsband rondloop nie! Definitief nie ek nie…

DSC00755

Hier kan julle sien dat ek steeds ‘n soet honne is. Oubaas het die halsband neergesit en vir my sit gesê en ek het dadelik gaan sit en doodstil gesit dat hy sy veters moet klaar vasmaak.

DSC00757

Siesa! Ounooi het dit maar klein gemaak, julle wil tog nie weet wat dit is nie, maar dis NIE myne nie! Stroes bob! sommer in die middel van die paadjie nogal, kan die mense dan nie LEES nie, of is hulle ongeletterd!

DSC00761

Nog steeds soet honne…hier wys Ounooi hoe ek self vooruit hardloop, stop en terug hardloop na hulle, ek doen dit sowat elke 100 tree. Ek doen dit nog altyd. Hier kan julle my sonder ‘n halsband sien, want dis in die veld, sodra Oubaas sien daar kom iemand met ‘n woef aan, dan sit hy baie gou my halsband aan, net vir ingeval daardie woef ‘n snaakse woef is. Meeste van die tyd is hulle almal baie gaaf en vriendelik.

DSC00766

Hier in die veld skop Oubaas vir my die bal, hier kan julle sien waar moet ek die bal in die gramadoelas gaan uithaal. Natuurlik raak ek doodmoeg na die gespelery.

DSC00781

Na so ‘n speelsessie, kry ek darem altyd lekker water. Oubaas is slim, hy dra altyd ‘n klein rugsakkie met hom saam en dan ek darem my dors les.

DSC00776

Hierdie sakkie het ek langs die pad gesien en gewonder watter soort snacks dit is. Die woord Rainbow het my laat dink aan ‘n land waar die mense die Rainbow nation genoem word, ek wonder skielik hoekom ek Ounooi dit hoor sê het.

DSC00785

Ek het julle lankal in ‘n cartoon vertel dat ek allerlei soorte honnes op my pad kry. Kyk nou hierdie ene. Haar naam is Mollie. Sy was skoon hondverskrik en honnesku en menssku… sy het soos ‘n wie-weet-wat rondgehol – asof sy vir ‘n marathon oefen. Die tweede keer toe sy weer soos ‘n malhonne verby ons kom, toe steel Ounooi die foto, maar sy wou graag die hond van voor af afgeneem het…dis nie ‘n mooi honne nie! Mollie – het ons agtergekom – het haar mense verloor en later het haar ounooi roepend na haar geloop en soek. Gelukkig het ons toe vir Mollie gewaar en haar geroep, sy het nader gekom en toe hoor sy haar ounooi en toe hol sy weer met ‘n skuins-vaart verby ons. Gelukkig was Mollie verenig met haar baas.

DSC00786

Liewe aarde! Kyk hoe spring ek darem! Ek sal die Suid-Afrikaanse netbalspan haal met hierdie spronge van my! O ja, Mollie se baas was doer ver agter daardie donker bome – die dat Mollie skoon verdwaal het!

DSC00789

Sjoe! Die koeligheid teen my moeë lyf is te heerlik! ‘n Honne raak darem moeg van speel, maar oe…dis ‘n lekker speel!

DSC00792

Hier het ek weer vooruit gehardloop en vir Oubaas-hulle gewag. Hier kan julle sien ek lê heerlik naby die perde!

DSC00798

Ai! As ek daardie pad daar bo sien, dan raak ek sommer lam! Dis waar al daardie brrrm-brrrrm-goete is waarvan ek net niks hou nie! Oubaas moet my baie keer oor die besig pad trek of selfs dra…ek hou net niks van daardie goed nie. Gelukkig is ons huis net so slap links, oor die pad en dan is ons by die huis!

Badtyd-video


Sjoe! Badtyd is darem lekker. Oubaas speel hier met my. Ek is eintlik klaar gebad en het net gou ‘n speelkansie gehad. Ongelukkig was Oubaas alleen en het hy net hierdie kort stukkie met die selfoon afgeneem. Ek sou eintlik heelwat langer in die water wou speel. Gewoonlik word ek elke twee weke gebad, maar ek het vanaand my derde bad in twee weke gehad! Ounooi hou daarvan as ek gebad is, dan ruik ek pure baba vir haar.

Perdespronge


Ounooi is verbaas om die plase te sien, byna reg teenaan die woongebied waar ons bly. Heerlike plekkies vir stap en net een ander stapper met sy woef was in sig.

Uitgestrekte plase, dit lyk kompleet asof hier nie geboer word nie, maar net gebly word.

Geen draadheinings nie, slegs heinings van hierdie digbeplante struike wat die wind afkeer vir die skape – die skape moet iewers wees, nie in sig vandag nie, maar skaapwolletjies kon op plekke gesien word.

Ounooi het gesê dat hierdie vir haar soos ‘n miniatuur plantasie lyk. Ek het te veel rondgehardloop en nie baie oor die woord gedink nie. Oubaas het ook so iets gesê.

Ounooi het weer haar toegespits op die afneem van bome…

…en nog bome!

…en ‘n enkele groot boom…

Bo-op een van die heuweltjies het ons die bewys gekry van ‘n vuurtjie wat gebrand het…

…en agter ons die plaashuis en buite-geboue.

Ounooi het iets van ‘n trôg gesê…Oubaas het drinkbak gesê…ek weet net ek was dors!

Hier is die bewys…ek kan spring! …soos ‘n wafferse perd – frisby in my bek

Loshande …of is dit lospote! oor die pale….

Nog affodille!

…en darem ‘n toilet …by die parkeerplek…vir die waarvoor die nood groot is.

Lekkerste uitstappie

Hier is ek, minute voor die uitstappie – ek het nog vir Poplap met die uitplant van plantjies gehelp toe ek Ounooi en Oubaas hoor roep.

Ek sit gereed agter-in die kar, baie opgewonde.

Ounooi is bedrywig met die kamera en ek loer vir haar. Oubaas is iewers in die huis doenig.

Oubaas draai nou te lank en ek begin al vir mense met hul honne in die straat kyk…[ek hoop julle sien my tong raak]…ek is die ene konsentrasie.

Ounooi is nou ook al moeg gewag vir Oubaas, nou neem sy al die bure se ingang af!

Aah! Ons is hier! Sowat 3km van waar ons bly. Ek ken hierdie paadjie al beter as Ounooi, ek was al drie keer hier, dis Ounooi se eerste keer.

Lekker sonskyn…Ounooi dink nie die weer gaan so sonnig bly nie, ons is gelukkig dat ons so bietjie sonskyn kry.

Dis mooi! Gelukkig nie te modderig nie.

Die huis is sommer net naby waar ons geparkeer het. Dis deel van ‘n klein woonarea.

En ons volg die voetpad!

Mooi né, die foto is 14:37 geneem…volgens die kamera se settings

Dis waar ons uitkom! Sjoe! Velde en velde gras…ons mag nie deur die hek gaan nie, maar ons mag op die boere se velde loop…natuurlik is daar reëls wat Country Code genoem word.

Oor hierdie trap-leertjie moet jy gaan om oor te klim- in plaas van deur die hek.

Ounooi kla van spiere wat gaan seer wees…hierdie velde is harde werk – op-en-afdraende!

Ek lê gereed – soos ‘n op-en-wakker skaaphond! – vir Oubaas om te begin speel!

Kyk net hoe konsentreer ek!

Doer hol ek agter die frisby aan! Sjoe, dis vrek harde werk, die opdraendes is steil en ek is gou gô uit!

As Oubaas klaar sê, dan weet ek om eers ‘n ruskans te vat, dan’s ek maar ook te bly om weer asem te kan skep.

Die gras is lekker dik en ek val sommer lekker plat daarop neer om my asem terug te kry.

Ek is baie mooi geleer. As Oubaas vir my sê om te wag of bly of sit, dan bly ek net waar ek is. Ek gaan nooit deur ‘n ingang sonder iemand se toestemming nie. As Oubaas-hulle gelukkig is, dan sal hulle gaan sê, dan weet ek dat ek toestemming het om deur te gaan. Die Engelse hier rond is dronk geslaan as hulle hoor ek verstaan Afrikaans! [haha..hulle honne verstaan dan Engels…honne leer mos die taal van hulle base!]

Terug kar toe. Ounooi het nog sowat 20 mooi foto’s, van hulle waar ek soos ‘n wafferse perd oor pale spring! Julle sal moet terugkom vir dit. Ounooi moet nou eers ontbyt gaan eet. [kyk net hoe blom die geel affodille!]

Pure Lekkerte

Oubaas het so pas sy SLIMste Oubaas sertifikaat van my ontvang! Ounooi het weke gelede vir hom gesê dat ek lekker groot bene met stukkies vleis aan moet kry om aan te knaag. Ounooi se woorde was eintlik: ‘n lekker massiewe been. Oubaas het nou slim geraak, want hy het net mooi spesiaal gaan ry om vir my hierdie massiewe been te gaan koop. Ek kan net nie genoeg van die been kry nie. Kyk hoe lê ek hier op my matras en eet. [o ja, ek het die ritssluiter van my matras net so voor Kersfees oopgekry en die matras se binnegoed begin uithaal. Ek het gedink Ounooi sou daarvan hou, maar sy het nie. Sy moes toe die matras in twee deel en nou sit ek met matrasse sonder ‘n rits! Ai, Ounooi weet net nie hoe graag ek die binnegoed van die matrasse uit wil hê nie!]

…en hier lê ek en kou….ek het nie ‘n saak met Ounooi wat vir my die bal wil gooi nie…

…ek verander net so bietjie van posisies, maar bly steeds….

kou aan my lekker massiewe been.

Beeste kyk en slimgeid

DSC02446

DSC02443

DSC02423

DSC02427

DSC02425

DSC02395

Ounooi het gelukkig so ‘n paar minute gehad wat sy kon steel om vir julle te bederf. Ek het natuurlik vir haar mooi poot gegee en haar knie ‘n lekker nat lek gegee. Julle het nou al die beeste-kyk foto’s gesien en hierdie boonste foto’s is almal nog deel daarvan. Julle sal ook onthou hoe soet honne ek is met die stappery en al die dinge. Hier is so baie rigtings waarheen daar met my gestap word, dat ek nou nie vir julle kan sê of hierdie een ‘n noordelike of oostelike rigting is nie, ek’s te deurmekaar gestap! Al wat ek weet – soos julle in die laaste foto kan sien – is dat ek heeltyd net snuf-snuf soos ons stap. Dis geen wonder Poplap sê ek’s ‘n stofsuierhonne nie, ek moet altyd aan als ruik en seker maak dis veilig en dat dit my nie gaan opeet nie. Hier het Ounooi skoon moedeloos geraak, want ek het letterlik elke blaartjie beruik, maar Oubaas het gesê sy moet my net dophou sodra ons omdraai en sê kom ons gaan “huistoe”. Sjoe! en toe gebeur dit! Toe ons omdraai, toe sê Oubaas net vir my, “kom Zandie, ons gaan huistoe, kom, huistoe!” Woef, sê ek vir julle regte mense wat hier lees, dit was toe ‘n hond van ‘n ander kleur! Ek het sommer nie meer geruik nie, net so hier en daar my neus grond toe laat gaan en reguit die paadjie gestap wat ons gekom het sonder dat Oubaas of Ounooi een woord vir my gesê het om my te herinner watter bos-afdraaipaadjie om te vat! Sjoe, Ounooi kon dit skaars glo. Sy was skoon in vervoering oor my slimgeid en het eers gedink Oubaas praat sommer. Woef, ek is ‘n honne-honne en nie ‘n bobbejaan-honne nie! Ek is slim as dit by “huistoe” kom en ek weet presies hoe ons gekom het en sal net die regte paadjie terugneem huistoe. Julle regte mense wat hier lees, julle moet vir julle almal ‘n Kollie-honne kry. Ounooi sê sy het nog altyd gedink haar Jack Russel was die slimste, maar nou dink sy bietjie anders. Woef!

Woef, amper vergeet ek. Iemand het vandag gesoek na “hoe lank leef Collie-honde!” op my blog. Sjoe, ek raak nou bekend. Die anner dag het iemand gesoek na die soort kos wat marmotte eet en ek het toe vir hulle die antwoord gegee. Nou gaan ek vir julle vertel hoe lank gaan ek nog leef…en dis maar net 12 jaar. Eina, dis nie baie lank nie. Die oudste Kollie-honne het 17 jaar geword. Sjoe, ek wens ek kan ook so oud word. Ai tog, hoekom moet almal en alles doodgaan!

DSC02435

Ounooi het baie gehou van hierdie foto, Oubaas sê sy wil altyd sulke “snaakse” goed afneem, goed wat gewone mense nie wil afneem nie, Ounooi sê sy hou daarvan om sulke “snaakse” goed af te neem, sy dink dis deel van jou persoonlikheid om bietjie “anders” te wees, Oubaas moet maar daarmee saamleef, hy het ook haar maar gelos, want hy ken haar al as sy eers begin kliek-kliek.

DSC02142

Hier kan julle sien hoe sommige mense die paadjies ry wat hulle nie mag ry nie. Julle sal seker nog die waarskuwing onthou. Oubaas het self die anderdag hier gery. Nou kan julle sien watse paadjies ek partykeer moet loop! Hier het ek en Ounooi teen die verste kant links op die gras probeer loop, Ounooi het net-net nie in die modder getrap nie en Oubaas het darem polite probeer wees deur te maak asof hy wil seker maak dat sy nie gaan val nie, maar sy het darem hom verseker dat haar balans baie goed is. Ek het nie balans mooi verstaan nie en gewonder of ek ook balans het en of myne ook goed is. Ounooi sal seker nog vir my sê wat dit is. Sy vertel my van alles wat ek moet weet.

DSC02124

Op hierdie foto kan julle die skuinste sien waar ek meeste van die tyd my stappies begin. Die bome doer in die verte, is waar ons deurkom en dan loop ons al die pad die skuinste af en dis juis hier waar ek so baie daarvan hou om in die lang grasse plat neer te val. Julle sal my vorige foto’s daaroor onthou. Dan kom ons by hierdie plaasskuur uit, wat vir Ounooi-hulle lyk of dit nie gebruik word nie. Links op die foto sal julle my hekkie sien waardeur ek moet gaan en dan’s ons direk in ‘n smal teerpaadjie. Die foto van die trekker sal julle nog onthou – waar ek so eenkant toe gesit het – dis nou daardie paadjie en daardie teerpaadjie bring mens ook uit by die modderige waterpaadjie wat julle ook hierbo sien. Die teerpad gaan aan oor ‘n tipe van ‘n bult wat ons nog nie gaan stap het nie. Die skuinste is nogal harde werk as jy teruggaan en Ounooi blaas partykeer soos ‘n os – moenie dat sy weet ek sê dit hier van haar nie!! – as sy doer bo uitkom. Ek dink sy het ‘n kierie nodig om daardie opdraende te loop!

DSC02373

Ek wonder wie van julle kan raai wat hierdie goete is! Ounooi kry hulle partykeer teen haar arms en dan gebeur daar iets vreesliks…sy moet ook ‘n pels soos ek kry, dan sal die iets vreesliks nie met haar gebeur nie! Dis sommer stoute plante, Woef!