Marmotte, lapverf en siesa

DSC01478

Party van julle het al gehoor ek weet van marmotte. Soms wens ek so hulle was skapies wat ek leer om aan te jaag. Die marmotte se huisie is so oulik, as hulle bang raak vir iets dan woerts hulle sommer gou-gou met hul leertjie op na die boonste verdieping. Oubaas het die leertjie vir hulle gemaak. Hy is sommer ‘n slim honne. Binne-in die boonste verdieping het hulle nog ‘n kassie! Daar is ‘n gaatjie vir hulle om daarin te kruip en die kassie het ‘n dekseltjie op. Hulle is baie snoesig in daardie kassie, veral as dit reën en ook as dit koud is. Ek wil ook ‘n marmot wees. Ek dink dis lekker in daardie kassie. Nie eers daardie woef wat my so laat skrik het sal my dan daar kry nie. Ek sal binne-in die kassie sit en vir hom terug woef as hy hier vir my kom woef.

DSC01790

Julle moet net hoor wat is die twee marmotte se name. Fizzie en Olifant! Poplap het hulle so genoem en Ounooi het net gesê, “watter name vir sulke twee diertjies!, kon jy nie aan meer oorspronklike name of meer marmot-name gedink het nie!” Dit het nie vir my geklink of Ounooi baie beindruk is met die name nie. Ek weet nie ook nie of ‘n marmot soos ‘n Olifant lyk nie, maar ek sal ook nie weet nie, ek moet nog leer van olifante. Ek moet nog leer van fizzies ook. Ek wonder of hulle soet is.   

O ja, julle sal seker wonder oor al die tonnels wat julle hier sien. Dis vir die marmotte, hulle speel speletjies en dan kruip hulle daar weg. Een tonneltjie laat hulle uitgaan waar julle die baksteen sien – regs agter. Oubaas het die baksteen by die opening gesit, want hy het gesê hulle moet nog eers gewoond raak aan hulle nuwe plek. Ek het ook gehoor dat hy bang is dat ek hulle gaan wil seer maak en hulle moet my eers gewoond raak.  Hy weet net nie, ek is ‘n soet honne en sal hulle net lek. Hulle kan maar uitkom en grassies kom eet, ek sal net vir hulle kyk. Ek sal hulle groot kyk.

DSC01771

Ounooi is lief vir verf, maar Poplap is nog liewer vir verf. Poplap teken baie mooi en is baie lief vir teken en verf. Ounooi raak net partykeer moedeloos as Poplap eers begin, want sy sê dan gewoonlik, “Poplap, al jou goed staan die hele wêreld vol, ons het nie eers loopspasie nie!” Dan moet Poplap eers van die verfhouertjies se dekseltjies opsit en haar pastelle toemaak en haar verfkwassies gaan was en al haar kunswerke op een plek kry, in plaas van die hele mat vol. Ounooi sê dis alles haar eie skuld, want sy het haar baie laat verf toe sy ‘n baba-kind was. Ek dink ek moet ook verf. Ek is ook nog ‘n baba-honne. Poplap sal my leer verf. Ek weet dit sommer.

Die oggend toe ons hier aangekom het, het Ounooi-ander aan die deur kom klop. Sy het vir Ounooi hierdie blomme gegee en ‘n kaartjie en ‘n vars tuisgebakte broodjie! Ounooi was so bly oor die broodjie. Sy was seker honger. Sy weet seker nie mooi van tuisgebakte broodjies nie. Sy het net met ‘n hoë stemmetjie gesê, “ag, hoe dierbaar! Sjoe! Ek gaan heerlik smul aan hierdie broodjie!” Ek weet nie wat dierbaar is nie, maar dit het vir my geklink of sy diere wil eet. Ek het gedink sy gaan my miskien saam met die broodjie wil eet en ek het in die hoekie gaan sit en vir die mooi blomme gekyk. Poplap het gesê, “dis my gunsteling kleur rose en boonop Mamma s’n ook.” Oubaas het niks gekry nie, hy het vir Ounooi die blomme in die water gesit. Ek dink hy wou seker ‘n houtwerkmasjien gehad het, want hy hou daarvan.

DSC01748a

SIES!!!! Ek gee tien woefe vir die iemand kan raai wat hierdie gemors is!! Ek gaan een leidraad gee. Dis ook iets van ‘n ander honne! Ag sies, ek wil nie so ‘n honne wees nie!

DSC01503

Wat ‘n vervelige dag! Ek was gister baie lank op my eie en het maar net rond gesit en rond gelê en niks gedoen nie. Partykeer het ek vir Fizzie en Olifant gaan loer. Ander kere het ek sommer net vir alles wat uit die lug val gekyk. Ek het gisteroggend so ver gestap. Oubaas-hulle stap baie vroeg in die oggend met my en dan weer laterig in die middag en ek is nog ‘n baba-honne. Hulle weet nie hoe moeg kan ek so ‘n baba-honne raak nie. Ek het die hele oggend in my bed geslaap, skoon poegaai na die oggend se ver stap. Poplap-hulle was winkels toe en Ounooi het binne die huis gewerk en net twee keer uitgekom om klere aan ‘n paal met groen drade te hang. Ek wonder of die kwaad kat by Ounooi-langsaan ook sulke lang groen drade het. Ek slaap sommer weer as ek dink aan hoe daardie kwaad kat vir my ge-ssssshhhhhh het. Poplap was slim. Sy het vir my ‘n leiband gekoop wat sommer baie lank is. Nou kan ek sommer baie ver vooruit hardloop en dan lank sit en rus. Dan is ek nie so moeg soos gisteroggend nie.

Ek het ook nou gelees dat daar mense is wat op my blog graag kom lees oor “marmotte” en iemand wou weet wat marmotte eet. Ounooi en Boeta-hulle gee vir hulle graag die volgende soggens vroeg – die marmotte “roep” hulle eintlik as hulle dit nie gou genoeg bring nie! : blaarslaai, wortel, komkommer en appel. Als in stukkies gesny sodat hulle lekker kan kou. Daarby kry hulle dan hul marmot-pille (amper soos hondepille, maar spesiaal vir marmotte). Marmotte is ook lief vir strooi, hulle slaaphokkie word gereeld skoongemaak en dan word daar baie strook in die boonste deel van die hokkie geplaas waaraan hulle dan te heerlik smul. Ek hoop julle geniet julle marmotte, want ek hou baie daarvan om hulle groot te kyk. Ounooi-hulle dink ek is ‘n slim honne as dit by marmotte kom!