Sien en doen

DSC01854

DSC01852

 

DSC01832

 
DSC01829

DSC01648

DSC01645

DSC01787

DSC01824

Gister was maar ‘n baie lui dag vir my gewees. Ek was byna die hele dag alleen en moes myself maar so bietjie vermaak. Ek het partykeer gaan kyk wat doen die marmotte en vir hulle ‘n woef gelos, net sodat hulle weet ek pas hulle op en kyk hulle groot. Ander kere het ek met my speelgoed gespeel. Ek raak al goed daarmee om die frisby te gooi dat hy so entjie rol. Ek dink ek sal al hoe beter raak, ek moet net meer oefen. Ek het net so bietjie stout geraak en ‘n plastiek bakkie se een hoekie gekou. Oubaas het my net baie mooi vertel, en sy vinger na die plastiekbakkie gehou en toe het ek geweet dat Oubaas nie daarvan hou nie.  Ek het net sy vinger gelek en vir hom toemaar gesê. Sy stem was so harder as gewoonlik en ek het gewonder of hy nou doof raak as hy so bietjie harder praat. Ounooi langsaan skree gedurig as sy met Oubaas-langsaan praat, want Oubaas-langsaan is so bietjie doof en hy hoor nie mooi nie. Ek hoor haar ook net skree as hulle iewers heen gaan. Gelukkig. Ek dink ek sal ook doof raak as ek haar die hele tyd moet hoor skree.

Op die foto’s kan julle weer sien wat ek sien wanneer ek op my stappies gaan. Ounooi sê die tweede foto het sy nie mooi geneem nie, maar ek het gevra dat sy hom vir julle moet wys. Meeste van julle weet seker van hekke en slotte op plase. Ounooi sê op hulle plaas het hulle hekke nooit slotte gehad nie. Dan kan julle ook die bloekomboom sien wat in ons tuin staan. Dis die boom waarvoor ek so lief is wanneer die bal vir my gegooi word. Dis ook aan die boom waar die sokkerbal gehang het. As jy hier lees en jy weet nie van my groot eina nie, dan moet jy bietjie gaan lees oor my eina op die eina-possie. Oubaas het toe vir Ounooi geluister en die bal gaan afhaal.

Terwyl ek gister so alleen was, het ek ook met tye myself bietjie skaflik gemaak vir wanneer Oubaas-hulle terugkom. Kyk net hoe strek my tone aan my een poot wat julle kan sien, ek het darem baie skoon tussen hulle gemaak, ek hoop julle kan sien hoe skoon ek is.

Op die volgende foto kan julle sien hoe laf ek myself gehou het. Wat julle nog nie weet nie, is dat daar ‘n hele paar appelbome agter in ons tuin groei. Hulle is maar so bietjie suur, Ounooi trek haar gesig op baie plooie as sy hulle eet. Ek speel lekker met hulle. My tande sak so weg in hulle en hulle rol nie te ver weg nie. Hier is ek weer besig om myself te vermaak met een van hulle. Ek wonder hoeveel van julle se honne kan hulleself so vermaak soos ek dit doen.

Aan elkeen wat hier lees, gaan daar vandag ‘n rooi poppie! Hierdie mooi poppies het Ounooi in die veld geneem. Sy het gedink julle sal daarvan hou en ek het ingestem dat ons die een op my blog plaas. Die mooier een is op Ounooi se blog. Woef-woef! Lekker dag vir julle almal!

Bollemakiesie is so lekker!

DSC01957

Julle sal onthou dat ek julle in die begin gesê het van trek wat ek ken. Hier kan julle nou baie goed sien dat ek trek ken, maar ek het nie die trek van Ounooi-hulle geken nie, maar nou ken ek dit ook. Poplap speel hier met my en my knoop-lappie. Ek trek eenkant en sy trek eenkant en dit is wanneer daardie snaakse geluide – ek het gehoor Boeta-hulle noem dit grom geluide – maak. Dit voel nogal lekker in my keel as ek grom-geluide maak. Boeta het ook gekom en vir Poplap gevra, “Mag ek bietjie met haar so speel?” Poplap het vir Boeta ook die knoop-lap gegee om eenkant te trek. Boeta moet nog leer om hard te trek soos Ounooi.

DSC01953

Ek speel op allerlei maniere met my knoop-lappie. Ek het so baie speelgoed wat my besig hou. As ek nie met my speelgoed speel nie, sit ek sommer net graag buite en kyk vir alles wat om my aangaan. Partykeer is daar sulke snaakse balle-goed wat flap-flap geluide maak wat so amper uit die boom val en na ‘n ander boom gaan. Ek het gehoor van vlieg. Hulle vlieg seker. Ek wonder baie oor vlieg en of ek sal kan vlieg. Miskien moet ek ook vlieg. Dit is miskien goed vir my en dan word ek sterker.

DSC01954

Kyk net hoe speel ek hier alleen. Hierdie knoop-lappie help baie vir my baba-tande. Dit het ek self gehoor. Ek dink ook so, daarom speel ek graag met dit. Ounooi het aangekom en vir Poplap gesê, “Jy moet haar bietjie uitneem vir ‘n slag sodat sy haar draaitjies kan doen voordat sy dit hier op die mat wil doen.” Ek het nie geweet wat draaitjies is nie, maar ek weet Poplap sal vir my verduidelik.

DSC01965

Ek wonder wat het die vee-arts nog vir Poplap Saterdag gesê. Ek het darem gehoor dat ek nou al 5kg weeg. Ek wonder wat is dit. Dit moet seker goed wees, want alles wat Poplap-hulle vir my doen is goed. Ek weet sommer. Hierdie lappie is so lekker vir my, ek wil hom sommer net die hele tyd in my bek hê.

DSC01978

Sjoe! Julle het nie geweet ek kan bollamakiesie slaan nie, nê! Kyk tog net hier! Liewe land, dis harde werk, maar ek het myself mooi geleer! Ek het Ounooi hoor skater van die lag en sy het vir Oubaas geroep. Ek het gedag ek sal dit sommer weer doen om vir hom ook te wys.

DSC01979

Dan moet ek daarna eers my sterk jaag. Ek wonder nog steeds waarom honne so sukkel om hul sterte beet te kry. Ek gaan al in die rondte op die mat en eintlik mag ek nie regtig op die mat kom nie, maar Poplap sê ek is ‘n familiehond en mag darem so een keer per dag hier wees, dan gebruik ek my kans om bollamakiesie te slaan. Dis groot pret, julle moet dit ook probeer! Maak net seker jy doen dit op ‘n sagte mat!

DSC01982

Kyk net hier, ek doen dit weer! Aitsa, dis hierdie keer sommer makliker en ek doen dit so vinnig!

DSC01990

Julle het al baie gehoor van die bloekomboom. Ek is lief vir hierdie boom. Ek dink hy hou van my ook want hy wag geduldig as ek by hom vir die bal wag. Ek weet nou meer van bal. Ounooi het my mooi geleer en gesê dis nie ‘n ronde geel skapie nie. Ag tog, daar is so baie om te leer en ek het bietjie agter geraak by my vorige huis. Ek moes Ounooi-hulle sommer lankal gehad het, dan was ek nie so dom slim honne nie.

DSC01985

Poplap is besig om die bloekomboomblare en die bas op te hark. Ek sit nou al baie lank hier vir haar en wag om vir my die bal te gooi. Ek word al vaak en dit voel of die donker oor my oë wil kom, maar ek weet sy sal dit nou-nou doen. Ek wag maar geduldig en gebruik die tyd om te leer. Ek weet dit is nie lank nie dan gaan ek ook die blare hark.

DSC01989

Poplap sê sy hou van blare en bloekomboombas hark. Miskien moet ek dit ook probeer. Ek word net elke dag groter en swaarder. Poplap het ander honne-pille by die vee-arts gekry. Hy het dit verniet gegee en gesê ek moet eers kyk of ek daarvan hou. Ek hou sommer baie daarvan, hy kan maar al die ander maande se sakke ook solank verniet vir my gee, ek sal alles mooi opeet. Die vee-arts wil nie hê ek moet vet word nie. Ek mag net drie keer per dag kos kry. Ek het Ounooi hoor sê. “Poplap, wil jy nou regtig hê ek moet elke pilletjie hier met die skaal afweeg! Ek gaan sommer net die glasie gebruik en skat, ek is mos goed met skat.” Poplap het gou die skaal gaan haal en vir Ounooi mooi uitgewerk hoeveel min-of-meer, sodat Ounooi presies weet as sy vir my van die pille moet gee.