Malhuis

malhuis

DSC01760

Ounooi sê dit gaan bietjie mal op die oomblik, alles is bietjie deurmekaar en onderstebo en sy probeer uitmaak wat aangaan by die skool. Die vorige mens-meneer het so droog gemaak – ek wonder wat was nat wat hy opgevee het? Ounooi het nou nie vir my gesê wat hy natgemaak het nie – dat dit haar seker twee jaar gaan vat om die poplappe en boetas reg te kry in die mense-skool. Sy het mooi aan my verduidelik hoe dit by die skool gaan en die boonste prentjie vir my gewys. Sjoe, ek kon nie uitmaak wat daar aangaan nie en het maar net doodstil gesit – soos julle hier kan sien – en gekyk. Ek het eintlik niks verstaan nie, maar nie vir haar dit gesê nie, anders is dinge vir haar nog maller. Sy gaan seker nou net tyd kry om so nou en dan – naweke veral – ietsie op my blog te skryf, want die poplappe en boetas moet nou mooi geleer word en sy praat ook van die menere van inspeksie wat na die mense-skool toe gaan kom. Ek sal nog moet uitvind wat “inspeksie” is, ek weet nog nie mooi nie, maar dit het ook vir my mal geklink. Dit klink vir my Ounooi gaan baie besig wees. As ek na die foto kyk, dan verstaan ek mal so bietjie, maar ek is nie seker of ek dit reg verstaan nie. Ek wonder of dit by julle ook so mal gaan soos in hierdie prentjie. Arme Ounooi, ek het net haar hand so bietjie gelek en gehoop Poplap sal vir haar tee maak.

Flap Flap

DSC02613

DSC02614

DSC02615

DSC02621

DSC02622

Ek wed julle het nie geweet van die deurtjie wat ek gekry het nie. Oubaas is darem oulik as dit kom by sulke dinge. Net gistermiddag baie laat het hy die deurtjie vir my ingesit, hy het geweet dit gaan vir my lekker wees om in-en-uit te gaan deur ‘n deurtjie soos hierdie. Poplap was ook weer met my doenig met honne-skool nadat Oubaas die deurtjie aangesit het. Sy was weer ‘n groot skelm en het my in-en-uit geleer-lok met ‘n “treat” en hoe kon ek nou anders as om vir haar te luister as ek geweet het ek gaan ‘n “treat” kry. Ek is seker julle sal ook enige iets doen vir sjokolade!

Gisteraand het Oubaas besluit hy moet my oefen om die deurtjie te gebruik en julle kan nou mooi op die foto’s sien hoe hard het ek geoefen. Ounooi het lekker gelag vir die een foto, sy sê ek lyk soos ‘n massiewe muis wat daardeur wil kom! Ek moet nogal saam met haar stem.Woef! maar ek glo nie muise het sulke wit vlekke in hul gesigte nie.

Reg bokant die flap is daar ‘n groterige venster en Oubaas het daardeur die bal vir my gegooi en ek was naderhand baie slim, ek het al begin uithardloop voordat hy die bal begin gooi het. Soms was ek weer lui, dan het ek net die bal deurgegooi binne toe, dan het Oubaas die bal gelos en my geroep, ek moes maar my luigeit los en ingaan, maar ek het geweet ek moet net weer daar omdraai en uithol! Ai, kan die Oubaas-man dan nou nie verstaan hoeveel werk hy vir my maak nie! Ek dink Ounoois is slimmer, hulle sou my sommer net daar gelos het, want hulle sou weet ek moes net weer uitgaan. Woef!