Lanklaas!

Oeee, ek lê te lekker!!
Nou lê ek eeeeeers lekker!
Soms hou ek my baie snaaks – soos hier. die foto is sowat 3 jaar gelede geneem, toe ek nog jonger was.

Sjoe! Dit is omtrent ‘n hele rukkie sedert ek iets op my blog kom sê het! Mapstieks! Tyd vlieg darem te vinnig en Covid is ook meer as een jaar oud! Ek hoop julle almal was en is Covid-vry. Gelukkig het ek dit nie gekry nie en spandeer deesdae baie tyd in die huis, want my ou lyf kan ook nie meer byhou met die jong honnes nie. Ek kan ook deesdae net so 500m per dag stap en dan wil die ou lyf ook nie meer nie. Ek probeer my pure jong-honnes hou, maar gee maar baie voor en maak asof ek nog kan byhou, maar o wee! Daardie agterbene wil nie meer nie. As ek so ‘n rukkie gelê het, moet ek my bene mooi bymekaar hou of hulle wil ook nie meer as ek wil opstaan. Saans, wanneer Oubaas en Ounooi bed toe gaan, klim ek ook nie meer die trappe op boontoe nie. Nee, dis net te erg. Ek bly maar deesdae net onder in die sitkamer, daar waar ek lekker op die mat kan lê of in die kombuis op die koel teels kan lê as ek te warm kry. In die foto’s: Ek het Ouboet se bed oorgeneem so ‘n ruk terug. Oubaas het gedink dis vreeslik snaaks en my toe gemaak met die komberse en ek wou nog baie langer slaap! Ek hou nie van foto’s neem nie, dit voel asof iemand my bedrieg! Veral as ek wil slaap!

Julle moet mooi na julleselwers kyk! Ek het net kom sê dat ek nog lewe en dat Covid my nie gekry het nie! O ja, julle moet hard praat hier op my blog. Ek hoor ook nie meer so mooi nie! My gehoor gaan ook nou agteruit – soos ek hoor die oumense praat. Ounooi en Oubaas weet hulle moet hulle hande twee keer klap vir my om aandag te gee en dan gebruik hulle ook meer en meer handgebare om my te kry om sekere dinge te doen soos om uit te gaan of om my ‘dinge’ daar buite te gaan doen. Groete aan almal en aan al julle woefe! Blaf! Blaf! tot volgende keer!

Ek ontspan – just relaxing

IMG_6538

Hello Everyone! This is me again! You guess right! I’m on the sofa in the living room – my favourite place for a late morning nap! The queen of the house, busy relaxing. How do you relax?

Hallo Julle! Dis ekke, Zandie hier. Hoe ontspan julle as julle nie werk nie? Kyk hoe ontspan ek! Is dit nie oulik nie. Soms hou ek daarvan om my pootjie oor my hele regteroog te sit! Dit is die beste manier. O ja, hierdie is my gunsteling plek om te ‘ontspan’, maar as dit regtig warm is, dan hou ek van die koue vloer van die kombuis. Ek is nou al 9 mens jare by Ounooi-hulle en ek raak nou regtig oud en ontspan deesdae meer as voorheen. Ai, die ouderdom haal ‘n honne in! Honnes moet doen wat honnes moet doen en dit is ‘ontspan’! 

Ek is so baie moeg – so very tired!

IMG_1688 IMG_1689

Sjoe! Ek hoop julle kan sien hoe moeg ek is.My tong hang sommer ver uit en ek hyg na my asem. Kan julle hoor hoe ek hyg? Ek hoop so! Ek is so moeg soos tien perde wat twintig perdekarre moes trek! Wanneer ek so moeg is kan ek nie eens water gedrink kry nie. Ounooi bly vir my sê om water te drink. Die water is baie naby aan my, maar sy weet nie dat ek net heeltemal te moeg is. Ek meen, give me a break! ‘n Hond kan ook net soveel bal speel voordat sy moeg is en ‘n hond moet kans gegee word om darem asem te skep voordat sy iets anders kan doen. Ek gaan nou eers probeer water drink en dan inloer by my rescue maatjies. Ek hoop Tannie Skoor het onthou dat ek ook ‘n rescue honne is. Hier is ‘n foto van my rescue maatjies, lekker in die winter warm aangetrek. Ek hoop Ounooi gaan ook vir my so ‘n jassie kry! Jinne, dis lekkerste bederf.
muis

These are my blog-friends! They were all rescued dogs. They live in Cape Town and you can see it was during winter when the photos were taken. I hope auntie Skoor told them about me, because I am also a rescued doggie! 

Lekker Sjokolade!

Zandiechocs
Hallo Almal! Ek leef nog! A nee a man! Sien julle wat ek sien! Hoe kan enige iemand dit aan ‘n honne doen! As jy my lekkerte in so ‘n doos sjokolade plaas, hoe dan nou anders, enige honne sal net so graag ‘n happie van daardie lekker sjokolade wil hê! Ek was baie skeef aangekyk toe ek meer vir die sjokolade kyk as my stukkie lekkerte wat daar eenkant neergesit is. Dan het hulle ook nog boon-op gedink hulle kan met my slim brein smokkel!

Zandie (2)
Net om te sê: Ek het nie ‘n sjokolade gekry nie! Nee wat! Hierdie familie dink honnes moet net honne kos kry. Dis net Ounooi wat so nou en dan ‘n krummeltjie van iets anders vir my skelmpies laat kry – as die ‘base’ van die huis nie vir haar kyk nie!

IMG_1528

Hier slaap ek vanaand op Ounooi en Oubaas se bed. Dis hoe ek elke aand bietjie bederf word. Gewoonlik is dit dan al naby aan 10uur en is oorwerk en uitgeput na ‘n dag se bal-speel. Dis die lekkerste deel van die aand voordat ek op my eie matras in die kombuis gaan slaap. Gewoonlik is ek so bietjie knorrig – soos ‘n knorrige ou man –  as ek hier lê, want dan is ek regit pê en wil nie gepla wees nie. 

Lui-lekker

SONY DSC

Dis darem ‘n lekker honne lewe! Hierdie is my gunsteling plekkie wanneer ek my middagslapie slaap! Ek lê so lekker, jy kon netsowel ‘n kat voor my neergesit het, ek sou nie eers ‘woef’ gesê het nie!

Kaal boudjies

Hallo Almal
Ek moes julle net ietsie wys. Poplap was verveeld – dis wat Ounooi gesê het en ek weet nog steeds nie wat verveeld beteken nie! Ounooi het iets gesê van kattekwaad met my gedoen. Ek weet nie waar die katte is nie, ek wil hulle net altyd gryp as ek hulle sien. Nou weet ek nie mooi wat Ounooi meen nie. Al wat ek weet is dat my boudjies bietjie voel of hulle kouer kry as gewoonlik en Ounooi se baie goete soos – kyk hoe lyk sy en ag nee man, wat het jy met haar gedoen, arme brakke! Kyk net hoe skaam lyk ek op die foto! Poplap dink my hare gaan vinnig groei en Ounooi dink nie so nie. Poplap wou my hele lyf geskeer het, ek is maar bitterbly sy het dit nie gedoen nie. Ounooi so darem vir dae aanmekaar gekerm en gekla het oor hoe siek ek sou lyk, ek dink dis genoeg dat sy nou vir ure en ure kla oor hoe ek nou lyk! O ja, Ounooi het niks gesê nie, maar sy het my so pas van ‘n slapie wakker gemaak, kyk net hoe slaperig lyk ek, behalwe dat ek skaam is vir die foto-nemery!

Ek lewe nog!

SONY DSC

SONY DSC

Hallo Almal weer!

Julle het natuurlik gedink ek het vergeet van my blog! Nee, dis net Ounooi wat altyd so besig is en nie tyd het nie. Nou eers het sy weer ‘n blaskansie – ‘n korte – om weer van my te skryf! So baie dinge het intussen gebeur, ek weet nie eers of Ounooi mooi byhou met wat gebeur nie. Ons getrek, soos ek voorheen gesê het. Hier op die boonste foto kan julle sien hoe ek steeds – in die nuwe huis – daarvan hou om met my bal te speel. Ek raak net soms so bietjie moeg as ek so moet sit en wag vir iemand om die bal van die trappe af te rol, as daar nie dadelik iemand is wat met my kan speel nie. Ek kan al self ook die bal afrol, maar ek is lekker bederf, ek moet iemand by my hê wat vir my ‘rol self’ sê, anders doen ek dit nie. Op die tweede foto kan julle my sien met Zindzi, een van vyf opgestopte renostertjies wat regoor die wêreld toer na verskeie skole om kindertjies oor die aarde in te lig oor die haatlike, verpeste, duiwelse mense wat die renosters so uitmoor!! Ounooi vertel my elke dag van nog ‘n renoster wat iewers doodgemaak is, dan wil ek die hondehorries kry! Daardie mense moet sommer VREK en ek hoop hulle braai in die duiwel se warmste vuur lewendig. Hulle het geen gevoelens vir diere nie en saai net verwoesting aan in my hondehart! Zindzi gaan by Ounooi se skool kuier vir drie weke en dan gaan sy na Oubaas se skool vir twee weke en dan gaan sy vir ander kindertjies kuier.  Zindzi kom van Kaapstad af, sy – en die ander 4 renostertjies, is van Afrika materiaal gemaak.  Zindzi is ‘n Zoeloe woord en dit beteken ‘warrior’. Sy gaan baie veg vir die renosters! Ounooi se skoolkinders is baie opgewonde en van hulle het al klaar hul eie opgestopte renostertjies gemaak. Hulle gaan nog baie maak. 

Intussen is Oubaas en Poplap besig om allerlei dinge rondom die huis te doen. Hulle het die sitkamer se muurpapier afgehaal – met ‘n stoommasjien waarvoor ek bang was – en toe twee lae verf geverf. Ek het nie van die verf gehou nie, want ek moes heeltyd uit die pad bly. Toe begin hulle twee met die badkamer. Sjoe, Ounooi het omtrent ‘n nuwe badkamer gekry soos hulle twee aangegaan het. Intussen het Poplap ook klaar gestudeer en sy is opgewonde omdat sy met die meerkatte gaan werk. Sy het ‘n groot projek gedoen oor miere, maar sê sy is nou moeg vir miere. 

Ek is verbaas hoeveel mense my honne-blog lees. Oor die afgelope ‘jaar’ was die volgende links die gewildste en jy kan sien hoeveel mense die links besoek het.

Dis donker, donker middernag! 69
Marmotte, lapverf en siesa 36
Ietsie oor myself/About myself 28
Al die veld is vrolik 26
Ou hekke, trekkers en Red Arrows 12
Brakkie-in-’n-mandjie 12
Ekke vandag 10
Slange vang! 10
Ek het ook ‘n skoen! 10
Honne red ‘n lewe! 8
Chompie red ‘n lewe 7
Sakabula gaan jou vang! 7
Waghonne 7
Van muise en muishonde 7
SONY DSC
Sjoe, dis darem ‘n kleurvolle besoekerskaart van besoekers op ‘n honne se blog, lyk my Afrikaans is ‘wyd’ verspreid.
SONY DSC
Hier wag ek soethonne in die bad. Oubaas het gepraat van ‘iets’ gaan haal in die garage en ek wonder wat dit is wat hy van praat!

Op die trap

Z1a3n4d5i7e

Ons het getrek. Hier kan jy my in die nuwe huis sien. Ek sukkel nog om die huis gewoond te raak. Ounooi ook. Sy kla oor die spasie. Hierdie trappe waar ek sit gaan na Poplap se kamer. Hier is drie verdiepings en dis net Poplap wat heelbo bly. Oubaas het gedink ek sit cute. Hier waar ons nou bly, is nie ‘n honne soos Millie nie. Millie was my blafmaatjie in die ander huis. Hier iewers is darem ‘n kat, maar ek kon die kat nog nie jaag nie. Oubaas maak ook goed seker dat die leiband om my nek is as ek gaan om nr 1 of nr 2 te doen, ek het gister amper gedink ek gaan ‘n kat kan jaag, maar toe’s die leiband om my nek. Ek is ook nie seker of dit ‘n kat was wat ek gesien het nie, ek het maar net begin storm, vir ingeval dit een was! Dink aan my, ek soek ‘n blafmaatjie en ‘n kat om te jaag!

Plekke, tente en katte

So bietjie vars nuus. Ek het weer – vir die eerste keer in ‘n lang tyd – vér ge-travel. Sommer baie lank ook, net die keer. Ek was al voorheen hier op Falmouth – klik op die kaart as julle nie mooi kan sien nie! – maar toe was ek baie jonger. Ek het saam met Oubaas-hulle in ‘n B&B gebly waar ‘n baie stoute hond was, een soos ek, maar ongemanierd! Oubaas-hulle het nie lekker gebly nie, daardie hond het my te veel ontstel. Die keer was Oubaas-hulle slimmer. Hulle het nie in ‘n B&B gebly nie, maar by Poplap. Ek het sommer baie tuis gevoel by Poplap se huis. Sy het sommer baie groot geword, ek wou net heeltyd by haar wees. Ek het ook nie in haar huis gepiepie nie. Oubaas was slim, hy het my gereeld uitgeneem. -of was dit ek wat slimmer geword het? Daar by Poplap het ek hierdie twee katte ontmoet. Ounooi nome hulle sommer net ‘Cornish Cats’ – want hulle is van Cornwall. Sy wou hulle sommer net huistoe bring!! Oubaas moes net links, regs en in die middel keer, anders was hulle in die kar. Hulle leef sommer net buite in die straat, maar hulle is vet! En hulle is mak. Ounooi het so baie van hulle gehou en  hulle het later sommer by Poplap se voordeur kom lê! Dit het Ounooi se hart sommer baie week gemaak. Ounooi het gesê die bonte het haar baie laat dink aan die plaaskat wat hulle gehad het. Ek het nog nie van plaaskatte gehoor nie. Waar ons bly is net ‘n rondloperkat wat my nou en dan kom ontstig. Ounooi het vir Oubaas gevra: ‘Kan ons maar nie net ‘n klein katjie kry nie?’ Toe sê Oubaas: ‘Dis die vinnigste ‘take-away’ wat jy vir Zandie sal kan gee!’ Ounooi het nie gedink dis snaaks nie, sy het net gedink ek moet leer van katte!

Hier sit ek binne-in ‘n tent! Kan jy glo!! Ounooi laat my in ‘n tent sit op ‘n snikhete dag! Dis so warm hier, dis 30 grade!! Ons kook uit en sy laat my hierin. Dit gaan Ounooi se leeshoekie word in haar klas. Ek weet nog nie van leeshoekies nie, maar nou weet ek van tente!

Kyk net hoe loer ek hier uit. Ounooi sê ek sal ‘n goeie leerder wees, want ek sit mooi stil in die leeshoekie. Nou moet ek nog van leerder ook leer! Daar is so baie goed om te leer! Ek dink ek gaan nou slaap! My seer poot moet rus. O ja, my linker agterpoot is seer en Oom vee-arts het gesê ek moet vir 6 weke rus! Dis ‘n nagmerrie. Ek mag nie rondhardloop en bal gaan haal nie. Arme ekke!

Hondelewe

Dit is so lank terug, sedert ek van my laat hoor het, ek wonder of enige iemand ooit nog onthou dat ek bestaan! Wel, hier is ek, nog steeds lewendig, ook maar net-net! Ek lei nou ‘n pure hondelewe, soos ons in Afrikaans sê! Niemand gee meer vir my om in hierdie huis nie! Niemand wil meer met my speel nie!! Niemand doen iets nie! Almal ignoreer my net links, regs en centre! Wat gaan aan met hierdie familie! Allerlei dinge gebeur en al wat ek hoor is SEERPOOT! en WAAR is jou seerpoot? En nee, jy kan nie dit doen nie, jou poot moet rus en nee, ons kan nie soontoe gaan nie, jou seerpoot moet rus!! Wat is hierdie ‘seerpoot‘ nou eintlik? My ‘seerpoot’ word so baie aangevat, dat ek al WEET waarheen om te kyk as daar ‘seerpoot‘ gesê word! Ja, dis my linker-knie en ek weet dit baie goed, want vir die afgelope 3 weke is dit al wat ek hoor en al waaraan gevat word, as jy dit ‘vat’ kan noem! Al wat ek nou wil doen is net om te gaan lê en wag vir die ‘einde‘! Hoe lank gaan ek nog ‘SEERPOOT‘ moet hoor? En hoe lank gaan daar nog aan ‘SEERPOOT‘ gevat word in hierdie huis? Kan iemand hierdie familie net vra om my ook in te lig, sodat ek weet om nie meer so ‘down’ te voel nie!? Ek is nou siek en sat vir ‘rus‘ en NIKS doen nie! Hoekom is daar op hierdie aarde so iets soos Veeartse wat vir mense stories opmaak oor SEERPOTE!

Ek lewe nog!

Ek het ‘n paar dae gelede so lekker gaan stap. Hier kan julle my weer poegaai gespeel sien. Op die foto is dit nie so duidelik sigbaar nie, maar ek lê daar op ‘n afdraende, wat beteken dat, as Oubaas vir my die bal verder ondertoe gooi, ek weer terug met ‘n opdraende hardloop om dit vir hom te bring. Dis bietjie unfair.

Hier is iets wat groen is, Ounooi het al vir my die kleure geleer. Ek kan my verskillende kleure balle uitmekaar ken, maar niemand anders wil dit glo nie! Hulle wil dit altyd eers sien, dan dink hulle, ‘Wow, dis so ‘n clever honne!’

Ounooi het gedink hierdie is ‘n lekker stoel om op te sit as jy moeg raak. Sy het baie gou moeg geraak, maar die stoel was nie naby nie!

Mooi bloeisels. Dis ‘n moeilike woord. Ounooi het dit ‘n paar keer vir my gesê, maar my tong is te lank om dit te sê!

Hierdie is geel. Ek ken my geel bal baie, baie goed!

Sien, hier is my geel bal! Ek het mos gesê ek ken my geel bal baie goed!

Hier is ‘n tonnel. Dit was nie groot genoeg vir my nie. Ek het darem groot geword, hoor!

O gonna, hier het my kop gedraai, Ounooi en Oubaas moes maar besluit waarheen!

Dis ‘n lekker wegkruipplek, maar ek is al weer te groot vir dit!

Hier het ek besluit ons moet huistoe gaan. In die ‘bos’ maak Oubaas my altyd vas, want hy weet nie altyd wie daar rondloop met hulle gedrogte nie. Daar is altyd baie ander honnes ook en sommige van hulle is aaklige gedrogte en ken nie hulle maniere nie.

Aaahhg, dis nou cute, is dit nie?

Poplap en haar vriende by die universiteit het nou ‘n hoender en eende en nou het ek ook van hulle geleer! Die stupid honne van langsaan het die een hoender doodgebyt, so ‘n simpel honne! Toe gee die stupid honne se baas die eende vir hulle. Die eende is nog bietjie wild!

Nou word almal gewaarsku! Daardie simpel honne ook!

Moenie ‘stap’ sê nie!!

Dis hoe ek lyk as ek kyk wat Ounooi doen wanneer sy sê sy het baie ‘skoolwerk’ wat gedoen moet word. Ek wil haar nie altyd glo nie, maar nou het ek self gesien! Iets sê steeds vir my dat sy nog steeds op blogs rondkuier!

Dis hoe ek vanaand lyk! Almal in hierdie huis het die woord ‘stap’ gesê! Ek het toe sommer weggehol en hier kom lê – en toe lag hulle vir my! Sie-a! Ek hou nie van daardie woord nie, dis ‘n vloekwoord vir my! Ek weet net een ding, ek is gek daaroor om in die oop ruimtes daar buite rond te hol – soos ‘n maer vark in die vlaktes! Oubaas gooi dan die bal vir my daar doer ver en my tong ek myle uit, so moeg is ek, maar moenie ‘stap’  sê nie!

 

Chompie red ‘n lewe


Hier is Chompie. Chompie moet eintlik vereer word. Chompie het ‘n lewe gered! Ouma-Ounooi het in die koue nag uitgegaan, gestruikel en onder die voertuig, wat naby haar woonstel se voordeur geparkeer was, beland en bly lê. Sy kon nie beweeg nie. Op daardie stadium was Ouma-Ounooi se heup ook gebreek met die val, maar het niemand dit nog geweet nie. Chompie, die held in die familie, het by die huis se voordeur gaan blaf, en blaf en blaf en blaf en blaf…vir baie lank totdat Ounooi-sussie uitgekom het om te kyk wat aangaan en daar wys Chompie aan Ounooi-sussie waar Ouma-Ounooi lê! Ouma-Ounooi was baie, baie siek daarna – van lank lê op die koue plaveisel, maar gelukkig het Chompie daaraan gedink om die res van die familie te gaan roep! Chompie is nou ook ‘n groot held vir Ounooi en ek sou graag eendag vir Chompie wil ontmoet. Ek hoop ek kan ook eendag ‘n held genoem word. Kyk hoe lekker lê sy hier op Ounooi se skoot, sy wou net heeltyd op haar skoot lê. Ek dink Chompie mis vir Ouma-Ounooi baie. Gelukkig word sy altyd gevat om vir Ouma-Ounooi hallo te sê.

Hoogtyd

Wat! Wie roep my en wek my hier uit ‘n diepe slaap?!

Droom ek, of wat? Ek is seker ek het my naam gehoor!

O! Dis Ounooi! Al weer met daardie ding wat kliek-kliek maak. Ek hou nogal van die ding, ek poseer graag vir ‘n foto!

Maar ek is nog so vaak!

Kyk nou net hoe glimlag ek vir ‘n foto!

En klaar is die foto-sessie! Nou kan ek verder slaap!

As Ounooi nou net wil loop, dan kan ek DALK weer aan die slaap raak! Die hoogtyd dat ek my eie kamer kry in hierdie huis waar ek my eie privaatheid kan hê.


Geniet hierdie animasie!

Brakkie-in-‘n-mandjie

Hier is Jacie! Ounooi het my so pas als van Jackie vertel. Ek dink ek en Jackie sou heerlik saam gespeel het. Jackie was ‘n Jack Russell en sy was erg verwaarloos toe Ounooi-hulle haar gekry het. Bosluise oral – heeltemal oortrek van dit! Selfs piepklein rooies, so klein dat Oubaas ‘n vergrootglas moes vat om vir nog te soek. Ounooi-hulle het gereageer op ‘n advertensie en daar in Pretoria-Oos/[Noord] die brakkie gaan haal. Dit was ‘n hele werpsel en het oral rondgekruip. Oubaas, Poplap en Boeta het haar gaan uitkies. Ounooi was moeg en het in die kar bly wag. Toe die vuil, verwaarloosde brakkie vir Ounooi aangegee word, was dit iets verskrikliks. Ounooi kon nie wag om by die huis aan te kom om die arme brakkie te bad nie. In die kar het Ounooi ietsie lekkers vir haar gehad en sy het dit gulsig verslind. Tuis het Ounooi-hulle getel, maar by 50 gestop. Te veel bosluise om almal te tel. Jackie was veearts toe geneem vir ‘n ondersoek en die veearts het nog ‘n klompie verwyder wat Ounooi-hulle gemis het. Die goed was so klein en het so weggekruip! Jackie was een groot plesier vir Ounooi-hulle. Sy het nie – soos mense hulle gewaarsku het – al hulle ‘besittings’ opgekou nie. Sy was goed besig gehou – soos julle op die een foto kan sien. Die koshuis se rugbyveld was haar gunsteling speelplek. Daar kon sy ver hardloop vir die bal en almal het met haar gespeel. Elke krieseltjie energie is uit haar gewurg. Toe die babatandjies begin jeuk het, het Ounooi vir haar een van haar broodmandjies gegee! Kyk net op die foto hoe oulik pas sy daarin! Dit was haar gunsteling plekkie om te lê en knaag aan die mandjie. Ounooi het nie omgegee nie. Sy het nog gehad – en sou nog een vir haar opgeoffer het, as dit nodig sou wees. Ongelukkig is Jackie onder die operasietafel oorlede toe sy ‘reggemaak’ word. Die veearts het bitter sleg gevoel. Haar hart was swak en kon nie die narkose weerstaan nie. Later het Poplap uitgevind dat honde nie rosyntjies gevoer moet word nie!! Dis sleg vir hulle harte! En…Ounooi het rosyntjies gebruik om haar te leer sit/poot/boude. ‘Boude’ was as sy op haar agterlyf gaan sit het met voorpootjies gelig. ‘Sit’ was net gewoonweg sit. Jackie het vreeslik vinnig aan als geleer. Ounooi sê sy was bitter slim, maar dat ek so effens slimmer is as Jackie. Ek dink Ounooi weet nie mooi nie, ek dink Jackie was net so slim soos ek! Op die volgende foto kan jy sien hoe ver haar tong uithang van al die gespeel- en op ander foto’s hang haar tong nog verder uit! Oubaas-hulle het altyd gelag vir daardie lang tong wat die klein brakkie het.