Aitsa! Bafana-Bafana!

Zandie mosaic

Woef! Hier kan julle  mooi na elke foto kyk, ek is so oulik met sokker! 

Aits, maar ek het darem ‘n baie, baie slim Oubaas. Hy is ook seker die hele wêreld vol, nes die bloekomboombas. Hy moet wees, want Ounooi het gesê hy moet ook altyd oral vir alles wees. Hy moes juis vir Poplap gisteraand weer in London gaan haal het. London is net so 3/4 uur se ry van waar ons nuwe plek is. Hy het hierdie sokkerbal van my met ‘n toutjie in die boom vasgemaak. Nou kan ek lekker sokker speel! Kyk net! Ounooi was ook gister in London. Sy lyk nou sommer anders. Ek het iets van ‘n haarsalon gehoor. Ek glo nie dit is iets wat seermaak nie, want ek het haar nie hoor huil nie. Ek het ook nie gehuil toe die vee-arts na my gekyk het nie.

Ek hoop julle het mooi na al die foto’s gekyk en gesien hoe sportief en slim ek raak. Ek het gehoor die sokker is volgende jaar in Suid-Afrika en ek is darem gekies om vir Bafana-Bafana te kan speel. Ek dink ek moet hierdie foto’s vir die spanbestuurder stuur, net om seker te maak hy weet van my en weet hoe ek lyk as hulle van my praat! Ek gaan die week wat kom nog harder oefen. Oefening maak ‘n mens sterk.

 Oefening vat baie van my tyd en jy moet so baie fiks wees. Kyk net hoe onfiks is ek nou, ek dink ek het seker nou ‘n dyspier geskeur, gelukkig is dit nie ‘n kraakbeen wat uit my knie verwyder hoef te word nie. Rugby is darem nie ‘n sport vir honne soos ek nie, ek sal maar eerder bly by Bafana-Bafana, hulle het my baie groot geld aangebied en ek kan nie dit op hierdie stadium weier nie, dit sal nie goeie honne-maniere wees nie. Ek het maande terug gehoor dat hulle my nodig het en ek is nou sielkundig goed voorberei vir wat vir my wag in 2010! Ek hoop net al die stadia sal betyds klaar gebou wees en dan hoop ek dat daar nie crime gaan wees nie. Crime is nie mooi nie, ook nie lekker nie. Woef!

 Hier in ons tuin is nie crime nie. Ek maak doodseker dat al die goggas lekker met mekaar speel. Partykeer kielie hulle my as ek aan hulle ruik en snuif en dan trek my kop op ‘n plooi, sommer so vanself en my ore hang in my oë soos ek my kop skeef draai om te kyk waarheen hulle gaan. Ek blaf sommer gou-gou as iets nie vir my reg lyk of klink nie. Ek het juis weer gisteraand sulke kort blaffies gemaak. Ek wil nie te hard blaf nie, want Poplap-hulle kom dan so gou uitgestorm om te kyk wat fout is en daar is nie fout nie, ek wil maar net vir almal laat weet dat ek ook nog daar is. Dis sommer net ‘n blaffie wat sê, “hallo, waar is julle, ek wil net sê dat ek darem nog mooi na die werf kyk.”

DSC02191

Ek gaan julle bederf met nog net een foto. Ounooi het so baie foto’s gister geneem. Ek dink ek gaan more sommer baie foto’s van my hier opsit. Kyk net hoe sportief is ek! Ek sal ook vir die Springbok-frisby-span in 2012 kan speel! Ek raak elke dag net beter en beter. Ek kry dit al goed reg om hom self op  te tel as hy so plat lê. Ek het julle mos vroeër gesê ek het nie alles van die begin af geleer nie. Ounooi-hulle het my mos aangeneem en nou eers raak ek net slimmer by die dag. Een van die dae gaan ek nie meer ‘n ‘n RO-hondjie wees nie. Alles kom sommer nou vinnig reg. Jy moet net aanhou en aanhou as jy iets nie regkry nie, want dis wat ek doen en Poplap-hulle help my mooi daarmee. Julle moet al julle kossies mooi opeet sodat julle net so sterk soos ek kan wees. En julle klein poplappies/boeta’tjies moet mooi luister vir al julle ounooie en oubase. Hulle is baie slim en weet net die beste vir julle wat nog moet groei en groot word soos ek.
Sjoe! Hierdie video het ek vandag gekyk en daar is die oulikste poplappies en boeta’tjies in die video. Hulle is tog so oulik. Woef!

English readers: I wonder if you know about football. Next year the world cup football is in South Africa and the South African team is called Bafana Bafana. Umfaan is the Zulu for “boy” and I think Bafana means “boys”. Do you think I’m clever? In the mosaic you can see me playing soccer! I was chosen for Bafana Bafana and I do practise very hard – as you can see! I love my frisby too. Have you got a frisby?