Lanklaas!

Oeee, ek lê te lekker!!
Nou lê ek eeeeeers lekker!
Soms hou ek my baie snaaks – soos hier. die foto is sowat 3 jaar gelede geneem, toe ek nog jonger was.

Sjoe! Dit is omtrent ‘n hele rukkie sedert ek iets op my blog kom sê het! Mapstieks! Tyd vlieg darem te vinnig en Covid is ook meer as een jaar oud! Ek hoop julle almal was en is Covid-vry. Gelukkig het ek dit nie gekry nie en spandeer deesdae baie tyd in die huis, want my ou lyf kan ook nie meer byhou met die jong honnes nie. Ek kan ook deesdae net so 500m per dag stap en dan wil die ou lyf ook nie meer nie. Ek probeer my pure jong-honnes hou, maar gee maar baie voor en maak asof ek nog kan byhou, maar o wee! Daardie agterbene wil nie meer nie. As ek so ‘n rukkie gelê het, moet ek my bene mooi bymekaar hou of hulle wil ook nie meer as ek wil opstaan. Saans, wanneer Oubaas en Ounooi bed toe gaan, klim ek ook nie meer die trappe op boontoe nie. Nee, dis net te erg. Ek bly maar deesdae net onder in die sitkamer, daar waar ek lekker op die mat kan lê of in die kombuis op die koel teels kan lê as ek te warm kry. In die foto’s: Ek het Ouboet se bed oorgeneem so ‘n ruk terug. Oubaas het gedink dis vreeslik snaaks en my toe gemaak met die komberse en ek wou nog baie langer slaap! Ek hou nie van foto’s neem nie, dit voel asof iemand my bedrieg! Veral as ek wil slaap!

Julle moet mooi na julleselwers kyk! Ek het net kom sê dat ek nog lewe en dat Covid my nie gekry het nie! O ja, julle moet hard praat hier op my blog. Ek hoor ook nie meer so mooi nie! My gehoor gaan ook nou agteruit – soos ek hoor die oumense praat. Ounooi en Oubaas weet hulle moet hulle hande twee keer klap vir my om aandag te gee en dan gebruik hulle ook meer en meer handgebare om my te kry om sekere dinge te doen soos om uit te gaan of om my ‘dinge’ daar buite te gaan doen. Groete aan almal en aan al julle woefe! Blaf! Blaf! tot volgende keer!

Lekker Sjokolade!

Zandiechocs
Hallo Almal! Ek leef nog! A nee a man! Sien julle wat ek sien! Hoe kan enige iemand dit aan ‘n honne doen! As jy my lekkerte in so ‘n doos sjokolade plaas, hoe dan nou anders, enige honne sal net so graag ‘n happie van daardie lekker sjokolade wil hê! Ek was baie skeef aangekyk toe ek meer vir die sjokolade kyk as my stukkie lekkerte wat daar eenkant neergesit is. Dan het hulle ook nog boon-op gedink hulle kan met my slim brein smokkel!

Zandie (2)
Net om te sê: Ek het nie ‘n sjokolade gekry nie! Nee wat! Hierdie familie dink honnes moet net honne kos kry. Dis net Ounooi wat so nou en dan ‘n krummeltjie van iets anders vir my skelmpies laat kry – as die ‘base’ van die huis nie vir haar kyk nie!

IMG_1528

Hier slaap ek vanaand op Ounooi en Oubaas se bed. Dis hoe ek elke aand bietjie bederf word. Gewoonlik is dit dan al naby aan 10uur en is oorwerk en uitgeput na ‘n dag se bal-speel. Dis die lekkerste deel van die aand voordat ek op my eie matras in die kombuis gaan slaap. Gewoonlik is ek so bietjie knorrig – soos ‘n knorrige ou man –  as ek hier lê, want dan is ek regit pê en wil nie gepla wees nie. 

Plekke, tente en katte

So bietjie vars nuus. Ek het weer – vir die eerste keer in ‘n lang tyd – vér ge-travel. Sommer baie lank ook, net die keer. Ek was al voorheen hier op Falmouth – klik op die kaart as julle nie mooi kan sien nie! – maar toe was ek baie jonger. Ek het saam met Oubaas-hulle in ‘n B&B gebly waar ‘n baie stoute hond was, een soos ek, maar ongemanierd! Oubaas-hulle het nie lekker gebly nie, daardie hond het my te veel ontstel. Die keer was Oubaas-hulle slimmer. Hulle het nie in ‘n B&B gebly nie, maar by Poplap. Ek het sommer baie tuis gevoel by Poplap se huis. Sy het sommer baie groot geword, ek wou net heeltyd by haar wees. Ek het ook nie in haar huis gepiepie nie. Oubaas was slim, hy het my gereeld uitgeneem. -of was dit ek wat slimmer geword het? Daar by Poplap het ek hierdie twee katte ontmoet. Ounooi nome hulle sommer net ‘Cornish Cats’ – want hulle is van Cornwall. Sy wou hulle sommer net huistoe bring!! Oubaas moes net links, regs en in die middel keer, anders was hulle in die kar. Hulle leef sommer net buite in die straat, maar hulle is vet! En hulle is mak. Ounooi het so baie van hulle gehou en  hulle het later sommer by Poplap se voordeur kom lê! Dit het Ounooi se hart sommer baie week gemaak. Ounooi het gesê die bonte het haar baie laat dink aan die plaaskat wat hulle gehad het. Ek het nog nie van plaaskatte gehoor nie. Waar ons bly is net ‘n rondloperkat wat my nou en dan kom ontstig. Ounooi het vir Oubaas gevra: ‘Kan ons maar nie net ‘n klein katjie kry nie?’ Toe sê Oubaas: ‘Dis die vinnigste ‘take-away’ wat jy vir Zandie sal kan gee!’ Ounooi het nie gedink dis snaaks nie, sy het net gedink ek moet leer van katte!

Hier sit ek binne-in ‘n tent! Kan jy glo!! Ounooi laat my in ‘n tent sit op ‘n snikhete dag! Dis so warm hier, dis 30 grade!! Ons kook uit en sy laat my hierin. Dit gaan Ounooi se leeshoekie word in haar klas. Ek weet nog nie van leeshoekies nie, maar nou weet ek van tente!

Kyk net hoe loer ek hier uit. Ounooi sê ek sal ‘n goeie leerder wees, want ek sit mooi stil in die leeshoekie. Nou moet ek nog van leerder ook leer! Daar is so baie goed om te leer! Ek dink ek gaan nou slaap! My seer poot moet rus. O ja, my linker agterpoot is seer en Oom vee-arts het gesê ek moet vir 6 weke rus! Dis ‘n nagmerrie. Ek mag nie rondhardloop en bal gaan haal nie. Arme ekke!

Hondelewe

Dit is so lank terug, sedert ek van my laat hoor het, ek wonder of enige iemand ooit nog onthou dat ek bestaan! Wel, hier is ek, nog steeds lewendig, ook maar net-net! Ek lei nou ‘n pure hondelewe, soos ons in Afrikaans sê! Niemand gee meer vir my om in hierdie huis nie! Niemand wil meer met my speel nie!! Niemand doen iets nie! Almal ignoreer my net links, regs en centre! Wat gaan aan met hierdie familie! Allerlei dinge gebeur en al wat ek hoor is SEERPOOT! en WAAR is jou seerpoot? En nee, jy kan nie dit doen nie, jou poot moet rus en nee, ons kan nie soontoe gaan nie, jou seerpoot moet rus!! Wat is hierdie ‘seerpoot‘ nou eintlik? My ‘seerpoot’ word so baie aangevat, dat ek al WEET waarheen om te kyk as daar ‘seerpoot‘ gesê word! Ja, dis my linker-knie en ek weet dit baie goed, want vir die afgelope 3 weke is dit al wat ek hoor en al waaraan gevat word, as jy dit ‘vat’ kan noem! Al wat ek nou wil doen is net om te gaan lê en wag vir die ‘einde‘! Hoe lank gaan ek nog ‘SEERPOOT‘ moet hoor? En hoe lank gaan daar nog aan ‘SEERPOOT‘ gevat word in hierdie huis? Kan iemand hierdie familie net vra om my ook in te lig, sodat ek weet om nie meer so ‘down’ te voel nie!? Ek is nou siek en sat vir ‘rus‘ en NIKS doen nie! Hoekom is daar op hierdie aarde so iets soos Veeartse wat vir mense stories opmaak oor SEERPOTE!

Ek lewe nog!

Ek het ‘n paar dae gelede so lekker gaan stap. Hier kan julle my weer poegaai gespeel sien. Op die foto is dit nie so duidelik sigbaar nie, maar ek lê daar op ‘n afdraende, wat beteken dat, as Oubaas vir my die bal verder ondertoe gooi, ek weer terug met ‘n opdraende hardloop om dit vir hom te bring. Dis bietjie unfair.

Hier is iets wat groen is, Ounooi het al vir my die kleure geleer. Ek kan my verskillende kleure balle uitmekaar ken, maar niemand anders wil dit glo nie! Hulle wil dit altyd eers sien, dan dink hulle, ‘Wow, dis so ‘n clever honne!’

Ounooi het gedink hierdie is ‘n lekker stoel om op te sit as jy moeg raak. Sy het baie gou moeg geraak, maar die stoel was nie naby nie!

Mooi bloeisels. Dis ‘n moeilike woord. Ounooi het dit ‘n paar keer vir my gesê, maar my tong is te lank om dit te sê!

Hierdie is geel. Ek ken my geel bal baie, baie goed!

Sien, hier is my geel bal! Ek het mos gesê ek ken my geel bal baie goed!

Hier is ‘n tonnel. Dit was nie groot genoeg vir my nie. Ek het darem groot geword, hoor!

O gonna, hier het my kop gedraai, Ounooi en Oubaas moes maar besluit waarheen!

Dis ‘n lekker wegkruipplek, maar ek is al weer te groot vir dit!

Hier het ek besluit ons moet huistoe gaan. In die ‘bos’ maak Oubaas my altyd vas, want hy weet nie altyd wie daar rondloop met hulle gedrogte nie. Daar is altyd baie ander honnes ook en sommige van hulle is aaklige gedrogte en ken nie hulle maniere nie.

Aaahhg, dis nou cute, is dit nie?

Poplap en haar vriende by die universiteit het nou ‘n hoender en eende en nou het ek ook van hulle geleer! Die stupid honne van langsaan het die een hoender doodgebyt, so ‘n simpel honne! Toe gee die stupid honne se baas die eende vir hulle. Die eende is nog bietjie wild!

Nou word almal gewaarsku! Daardie simpel honne ook!

Moenie ‘stap’ sê nie!!

Dis hoe ek lyk as ek kyk wat Ounooi doen wanneer sy sê sy het baie ‘skoolwerk’ wat gedoen moet word. Ek wil haar nie altyd glo nie, maar nou het ek self gesien! Iets sê steeds vir my dat sy nog steeds op blogs rondkuier!

Dis hoe ek vanaand lyk! Almal in hierdie huis het die woord ‘stap’ gesê! Ek het toe sommer weggehol en hier kom lê – en toe lag hulle vir my! Sie-a! Ek hou nie van daardie woord nie, dis ‘n vloekwoord vir my! Ek weet net een ding, ek is gek daaroor om in die oop ruimtes daar buite rond te hol – soos ‘n maer vark in die vlaktes! Oubaas gooi dan die bal vir my daar doer ver en my tong ek myle uit, so moeg is ek, maar moenie ‘stap’  sê nie!

 

Chompie red ‘n lewe


Hier is Chompie. Chompie moet eintlik vereer word. Chompie het ‘n lewe gered! Ouma-Ounooi het in die koue nag uitgegaan, gestruikel en onder die voertuig, wat naby haar woonstel se voordeur geparkeer was, beland en bly lê. Sy kon nie beweeg nie. Op daardie stadium was Ouma-Ounooi se heup ook gebreek met die val, maar het niemand dit nog geweet nie. Chompie, die held in die familie, het by die huis se voordeur gaan blaf, en blaf en blaf en blaf en blaf…vir baie lank totdat Ounooi-sussie uitgekom het om te kyk wat aangaan en daar wys Chompie aan Ounooi-sussie waar Ouma-Ounooi lê! Ouma-Ounooi was baie, baie siek daarna – van lank lê op die koue plaveisel, maar gelukkig het Chompie daaraan gedink om die res van die familie te gaan roep! Chompie is nou ook ‘n groot held vir Ounooi en ek sou graag eendag vir Chompie wil ontmoet. Ek hoop ek kan ook eendag ‘n held genoem word. Kyk hoe lekker lê sy hier op Ounooi se skoot, sy wou net heeltyd op haar skoot lê. Ek dink Chompie mis vir Ouma-Ounooi baie. Gelukkig word sy altyd gevat om vir Ouma-Ounooi hallo te sê.

Hier volg die nuus – deur…

Ounooi het so bietjie gaan kuier – sommer BAIE ver, ver weg van ons. Sy was nie baie lank weg nie. Toe sy terugkom, het ek eers nie dadelik besef dat sy vir ‘n rukkie weg was nie en skielik tref dit my! Toe wou ek haar net opvreet en sy moes net keer of ek wou sommer haar hare in haar nek stukke uithap van opgewondenheid.  Ek het sommer ook bietjie op haar skoot gelê en slaap – nie vir lank nie – maar dis nou iets wat ek nie sommer doen nie. Ounooi het my van AL die honnes vertel en gesê sy gaan nog baie nuus vir julle hê oor al die honnes daar in die land van Afrika. Sjoe, ek kon ook nie byhou met al die honnes nie, selfs ‘n kat ook! ‘n Kat! Ja, ‘n kat, wat muise vang en tooi. [hoor ek nou die liedjie van ‘dapper muis’ iewers?]

O ja, in hierdie foto’s is Hektor. Hektor is baie, baie, baie kwaai, maar Ounooi sê hy is so cute, sy wou hom net in ‘n tas pak en saambring! Oubaas lag net. Hektor is so bederf, maar dis ook omdat hy die hoof van ‘security’ is daar in daardie ver land! Hektor slaap op die bank in die sitkamer, by die voordeur. Hy word elke nag met sy lekker dik kombers van kop tot tone toegegooi! Kyk die foto!

Hektor sit by een van die poplappe op die bankie.

Hektor is vaaaa-aaa-aaak!

Hier is Hektor TOE onder sy kombers, van kop tot tone en weer tot sy kop! Ai, ek sal so lekker met hom kan speel!

Tjirts! Hier het Hektor wakker geword. Kyk net hoe gaap hy! Die bederfling! Sjoe…hou die spasie dop, meer honnes en ‘n kat gaan kom hallo sê en meer nuus sal aan julle voorgehou word. Ek het nou eers als gesien. Honnes wat so bederf word! Ounooi het so lekker gelag toe daar vertel [en gedemonstreer word] hoe Hektor kanse vat om op die beddens te slaap, spesiaal by Ouma-Ounooi. Sjoe, Hektor is darem ‘n oulike woefe!

Brakkie-in-‘n-mandjie

Hier is Jacie! Ounooi het my so pas als van Jackie vertel. Ek dink ek en Jackie sou heerlik saam gespeel het. Jackie was ‘n Jack Russell en sy was erg verwaarloos toe Ounooi-hulle haar gekry het. Bosluise oral – heeltemal oortrek van dit! Selfs piepklein rooies, so klein dat Oubaas ‘n vergrootglas moes vat om vir nog te soek. Ounooi-hulle het gereageer op ‘n advertensie en daar in Pretoria-Oos/[Noord] die brakkie gaan haal. Dit was ‘n hele werpsel en het oral rondgekruip. Oubaas, Poplap en Boeta het haar gaan uitkies. Ounooi was moeg en het in die kar bly wag. Toe die vuil, verwaarloosde brakkie vir Ounooi aangegee word, was dit iets verskrikliks. Ounooi kon nie wag om by die huis aan te kom om die arme brakkie te bad nie. In die kar het Ounooi ietsie lekkers vir haar gehad en sy het dit gulsig verslind. Tuis het Ounooi-hulle getel, maar by 50 gestop. Te veel bosluise om almal te tel. Jackie was veearts toe geneem vir ‘n ondersoek en die veearts het nog ‘n klompie verwyder wat Ounooi-hulle gemis het. Die goed was so klein en het so weggekruip! Jackie was een groot plesier vir Ounooi-hulle. Sy het nie – soos mense hulle gewaarsku het – al hulle ‘besittings’ opgekou nie. Sy was goed besig gehou – soos julle op die een foto kan sien. Die koshuis se rugbyveld was haar gunsteling speelplek. Daar kon sy ver hardloop vir die bal en almal het met haar gespeel. Elke krieseltjie energie is uit haar gewurg. Toe die babatandjies begin jeuk het, het Ounooi vir haar een van haar broodmandjies gegee! Kyk net op die foto hoe oulik pas sy daarin! Dit was haar gunsteling plekkie om te lê en knaag aan die mandjie. Ounooi het nie omgegee nie. Sy het nog gehad – en sou nog een vir haar opgeoffer het, as dit nodig sou wees. Ongelukkig is Jackie onder die operasietafel oorlede toe sy ‘reggemaak’ word. Die veearts het bitter sleg gevoel. Haar hart was swak en kon nie die narkose weerstaan nie. Later het Poplap uitgevind dat honde nie rosyntjies gevoer moet word nie!! Dis sleg vir hulle harte! En…Ounooi het rosyntjies gebruik om haar te leer sit/poot/boude. ‘Boude’ was as sy op haar agterlyf gaan sit het met voorpootjies gelig. ‘Sit’ was net gewoonweg sit. Jackie het vreeslik vinnig aan als geleer. Ounooi sê sy was bitter slim, maar dat ek so effens slimmer is as Jackie. Ek dink Ounooi weet nie mooi nie, ek dink Jackie was net so slim soos ek! Op die volgende foto kan jy sien hoe ver haar tong uithang van al die gespeel- en op ander foto’s hang haar tong nog verder uit! Oubaas-hulle het altyd gelag vir daardie lang tong wat die klein brakkie het.

Kwaaitjie

Sjoe, sulke honne het ek nog nie gesien hier waar ons bly nie. Ounooi wys my altyd allerlei soorte honnes op youtube, maar hierdie ene het ek nog nie gesien nie. Ounooi-hulle was gister na die Science museum toe en toe hulle uitkom, staan die honne by die straatnaambordjie en wag vir sy baas. Ek is bly sy het hom afgeneem, maar hy lyk so kwaai, ek weet nie of ander honnes [soos ek] naby hom mag kom nie. Ek wil darem nie geëet word nie. Ounooi het juis die ander dag vertel hoedat sy gesien het dat ‘n vrou se groot woef twee baba woefies wou hap en hap. Die baba woefies se baas het hulle nie eers opgetel nie, net weggepluk aan hul leibande. Sie a, daardie oubaas van die baba woefies het darem nie breins nie. Ounooi was woedend toe sy sien wat hy doen en die groot woef was nie eers aan ‘n leiband nie. Sommige mense moet ook eers na ‘n skool toe gaan waar hulle van troeteldiere leer.

Jen

Jen was een van my B&B-maatjies die afgelope paar dae, maar ek weet nie regtig of ek van haar kan praat as ‘n maatjie nie. Ek was heeltemal ontsenu deur Jack, met die gevolg dat ek nie baie met Jen gespeel het nie. Jen is ‘n liewe honne, nes ek, sy’s vreeslik vriendelik en sy doen alles soos ek dit doen. As Oubaas haar speelding vir haar gegooi het, het ek net eenkant gesit en kyk hoe sy dit gaan haal het. Soms het Oubaas vir my gesê om dit te gaan haal, dan het Jen weer net gesit en kyk. Ek het baie van haar gehou – en sy het nog meer van my gehou, maar ons het nie baie met mekaar te doen gehad nie, want sy was eintlik die honne van next door langs die B&B. Ounooi-hulle was gek oor haar en ek dink ons sou heerlik gespeel het as dit nie vir ou Jack was wat alles van die begin af verongeluk het nie. Ek en Jack kon mekaar nie verdra nie en het elke keer na mekaar gehap as ons te naby mekaar was. Hier kan julle my ook in die paadjie sien sit. E sit voor die treinbrug. Hierdie tonnel freak my uit – soos Oubaas gesê het. Die tonnel is om en by 5m lank en enige iets wat jy daarin sê, weerklank. Ounooi het sulke onderaardse laggeluide gemaak wat my totaal uitgefreak het. Die trein wat hierlangs gekom het, het elke keer verskriklik vinnig gery en het dit na iets vreesliks geklink by die B&B.

Bed en ontbyt-honne

Ounooi-hulle was ‘n paar dae na Cornwall en raai wat? Ek was saam! Dit was my heel eerste groot uitstappie, weg van die huis af vir ‘n paar dae. Ek is gewoond aan kar ry, soos julle my al voorheen in die kar gesien het, maar hierdie uitstappie was bietjie anders as al die voriges! Ek het, soos gewoonlik, baie, baie soet in die kar gelê en die hele ent pad my soos ‘n soet-honne gedra. Oubaas het vir my op plekke gestop, maar ek wou niks doen nie. Ek het ook nie naar of siek in die kar geraak nie, ek het net niks van al die karre se gejaag gehou nie – waar ons gestop het. Oubaas het elke keer probeer om die verste punt te kies waar daar grasperk naby die kar was of weg van die erge gery van karre, maar dit was steeds ‘n groot geraas. Ek het meeste van die tyd gelê en slaap. Ek kon aanvoel dat ons ‘n ver pad ry. By die B&B aangekom, het ek natuurlik heel eerste die plek geinspekteer om seker te maak dis veilig genoeg vir ons almal om daar te bly! Hier kan julle sien hoe ek in die badkamer op byna op my maag rondsluip om elke kolletjie te inspekteer!  Julle kan my ook in die hoofslaapkamer se vensterbank sien, my gunsteling plekkie om uit te kyk vir twee ander honnes wat hier bly. Hulle name is Jen en Jack en ek het net mooi niks van Jack gehou nie. Jen is ‘n honne soos ek, maar Jack is ‘n Kollie gekruis met ‘n Spaniel.  Julle sal hulle nog op foto’s sien. Vir eers geniet ek dit om weer in my ou eie plekkie te wees en dis baie waar wat Ounooi sê: Oos Wes Tuis Bes!

Pure moegheid

Poplap het vooruit gedraf terwyl Oubaas vir my die bal gegooi het. Oubaas is stout, want hy gooi die bal op allerlei afdraendes en dan moet ek daardie steil opdraende hardloop om dit vir hom terug te neem! Toe Poplap weer by ons aansluit, was sy sommer pootuit – en ek! Ek het sommer bo-oor haar gaan val van pure moegheid – hier was Oubaas nie betyds om my af te neem waar ek byna oor haar gesig gaan val het nie. Op die ander foto kan julle sien hoe moeg gewag was ek op die grasperk. Niemand kom uit om die bal vir my te gooi nie – almal sê hulle is besig! Gmf! besig met wat? Ek het sommer moeg geword en aan die slaap geraak – met my geel bal net reg agter my. Dis my gunsteling bal, want hy hop so lekker en ek vang hom baie maklik uit die lug.

Speel is my lewe

Hier sien julle my weer my met sokkerbal! Ounooi wou die stuipe kry toe sy sien Oubaas het weer die bal aan die tak vasgemaak [met die tou], want van julle sal onthou toe ek ‘n kleinerige baba-honne was, het ek seer op my rug geval omdat ek so hoog wou spring om die bal by te kom. Oubaas moes maar toegee en nie vir Ounooi laat stress nie. Hy het die bal op ‘n laer hoogte gesit, maar toe besluit hy gaan dit vervang met die lekker dik stok waaraan ek sommer kan kou terwyl ek met dit speel. Die dag toe ek op  my rug geval het, was Ounooi alleen by die huis en het ek vreeslik getjank en Ounooi het sommer saam gehuil en sy sê Oubaas weet net nie hoe seer ek gekry het nie, maar ek moet darem sê dat ek intussen sterker geword het en al hoog kan spring, maar ek sal maar ook nie  vir Ounooi laat stress nie en daarom was ek maar tevrede met die stok. [julle het seker al op  vorige foto’s gesien hoe hoog ek vir ‘n bal kan spring!]

Water! Water! Water!

Sjoe, ons het ‘n paar baie warm dae gehad en ek kon die hitte net nie meer weerstaan nie. Soos julle hier sien, geniet ek myself gate uit met die sproeier wat Oubaas vir my opgekoppel het. Natuurlik kon ek dit nie vir te lank doen nie, want anders sou ek sopnat gewees het, maar ai, dit was groot lekkerte!