Hier volg die nuus – deur…

Ounooi het so bietjie gaan kuier – sommer BAIE ver, ver weg van ons. Sy was nie baie lank weg nie. Toe sy terugkom, het ek eers nie dadelik besef dat sy vir ‘n rukkie weg was nie en skielik tref dit my! Toe wou ek haar net opvreet en sy moes net keer of ek wou sommer haar hare in haar nek stukke uithap van opgewondenheid.  Ek het sommer ook bietjie op haar skoot gelê en slaap – nie vir lank nie – maar dis nou iets wat ek nie sommer doen nie. Ounooi het my van AL die honnes vertel en gesê sy gaan nog baie nuus vir julle hê oor al die honnes daar in die land van Afrika. Sjoe, ek kon ook nie byhou met al die honnes nie, selfs ‘n kat ook! ‘n Kat! Ja, ‘n kat, wat muise vang en tooi. [hoor ek nou die liedjie van ‘dapper muis’ iewers?]

O ja, in hierdie foto’s is Hektor. Hektor is baie, baie, baie kwaai, maar Ounooi sê hy is so cute, sy wou hom net in ‘n tas pak en saambring! Oubaas lag net. Hektor is so bederf, maar dis ook omdat hy die hoof van ‘security’ is daar in daardie ver land! Hektor slaap op die bank in die sitkamer, by die voordeur. Hy word elke nag met sy lekker dik kombers van kop tot tone toegegooi! Kyk die foto!

Hektor sit by een van die poplappe op die bankie.

Hektor is vaaaa-aaa-aaak!

Hier is Hektor TOE onder sy kombers, van kop tot tone en weer tot sy kop! Ai, ek sal so lekker met hom kan speel!

Tjirts! Hier het Hektor wakker geword. Kyk net hoe gaap hy! Die bederfling! Sjoe…hou die spasie dop, meer honnes en ‘n kat gaan kom hallo sê en meer nuus sal aan julle voorgehou word. Ek het nou eers als gesien. Honnes wat so bederf word! Ounooi het so lekker gelag toe daar vertel [en gedemonstreer word] hoe Hektor kanse vat om op die beddens te slaap, spesiaal by Ouma-Ounooi. Sjoe, Hektor is darem ‘n oulike woefe!

Koningskind 1

Koningskind deur Anita du Plessis

Hallo alle kinderboekliefhebbers – my Ounooi is die grootste van almal, niemand kan haar wen nie – woef! Hier is hoe die boekie lyk. Ounooi het twee van die boekies, maar o weë, hulle is weggepak tussen al die miljuisende bokse goete van haar en sy’t toe besluit dit sou makliker wees om te google vir ‘n ander een en na ‘n baie, baie lang gegoogle, het sy die boek by Maroela-boeke in die Kaap opgespoor. Baie e-posse is heen-en-weer gestuur tussen Ounooi en Oubaas Neels van Maroela-boeke, want op ‘n stadium was die boek nie meer beskikbaar nie en toe laat weet Oubaas Neels haar later hulle het weer een ingekry. Sjoe, dit het Ounooi lank geneem, ek dink ek was nog nie gebore nie toe die eerste e-posse heen-en-weer gestuur is! Die boek is toe vir Ounooi se sus gepos, want Ounooi moes meer as R500 se boeke gekoop het vir Maroela om dit na die ukay te stuur. Toe kon Ounooi se sussa dit weer vir haar pos. Ounooi was so baie bly. Hierdie einste boek het trane in haar oë gebring – van al die gelag! –  toe sy vir die eerste keer uit hom voorgelees het  vir gr5-jkinners in SA toentertyd. Die kinders het net so lekker gelag vir ou Keiser. Hulle wou net elke week weer en weer en weer van Keiser hoor en Ounooi het altyd net die laaste 5 minute van die les vir hulle gelees. Partykeer het sy hulle bederf en dan dit 10 minute gemaak. Ek dink van daardie jkinnertjies het al moedeloos geraak, want hulle wou net die hele boek op een slag hoor! Ounooi gaan vir julle bietjie dele uit hierdie boek hier plaas, maar as ek julle is, kry ek hom sommer in die hande – as hy ooit nog iewers beskikbaar gaan wees, want Ounooi het al haar dae gehad om die boek in die hande te kry.