Meer honnes en Kaapse honnes ook

SONY DSC

Hallo Almal!

Ek kom net sê dat ek nog leef! Dis byna 1 jaar later en hier’s ek weer! Jitte, die tyd vlieg. Ounooi het in ‘n park gaan stap en hierdie honne afgeneem. Sy hou daarvan om ander honnes vir my te wys. Ek blaf en sê altyd hallo vir hulle almal. Die honnes op die volgende foto is altwee Kaapse honnes en hulle Ounooi bederwe hulle te lekker. Hulle weet nie van honne-lewes nie, net van koninklikes. Ek hoop julle gaan vir hulle ‘hallo’ sê, hulle woon albei in Skelmbos! Sjoe, hierdie WordPress se Afrikaans is baie snaaks. Hulle sê ‘kop’ vir ‘heading’ in Afrikaans… blaf! blaf! BLAF! dis erg snaaks! Ek gaan nou my heading afblaf! 

woef

honnes

SONY DSC
Hierdie uitgeholde boom is ‘n antieke boom wat Ounooi in die historiese park afgeneem het. Hulle het ‘n kampie om die boom gesit sodat stupid mense nie die boom verniel nie. In die park is ook van die Harry Potter ‘scenes’ geskiet.

‘n Grand Master!

DSC02356

Julle het al ‘n geruime tydjie terug gehoor dat ek probeer het om te kyk of ek ‘n skaakhonne is. Ounooi het vir my baie gemaklik gemaak op die opvoustoel en ek het soos ‘n ware Grandmaster gevoel en gedink. Ek het baie goed gedink oor die skuiwe wat ek moet maak om seker te maak ek word Suid-Afrika se eerste Skaak Grandmaster-honne. Ek het juis gehoor dat ons ‘n eerste vroulike Skaak Grandmaster het en ek is ook ‘n vroue-honne, ek moet darem ook dan ‘n Grandmaster kan wees. Maar ai, om die regte besluite te neem is darem moeilik as jy moet skaak speel. Jy moet sommer die ander honne se gedagtes ook ken en kan weet wat daardie honne beplan en ek moes darem eers oefen en leer. Ounooi het my mooi al die stukke gewys en gesê wat hulle kan doen. Toe…

DSC02357

besluit ek dit sal my Loper wees wat ek eerste gaan skuif, maar o gonnas, hulle kan mos nie eerste skuif nie, ok, ek dink dan die pionne moet dan maar skuif. Kyk net hoe mooi en versigtig probeer ek die pion optel om hom nie te hard te byt met my tande nie. Ounooi het gesê ek moet baie versigtig skuif, want ek kan net een stuk op ‘n slag skuif, maar…

DSC02358

O liewe land! Nee kyk, ek glo nie ek en skaak is maatjies nie. Ek sal liewer die Grandmasters vir die Grandmasters los en liewer net ‘n gewone honne wees. My koningin en loper het sommer aan die stry gegaan oor my skuif en toe weet ek nie wat om te doen nie, ai tog! dat sulke mense die lewe vir my moet moeilik maak, hoekom kan die koningin nie net by haar man staan en vir hom luister nie. Hulle kan mos nie vir ‘n honne-meester sê wat om te doen nie, kyk hoe lê hulle nou daar, sommer lekker moeg gebaklei en gestry!

DSC025659

Ounooi het hierdie baie mooi vlaggie vir my gewys en oe! ek hou so van daardie woord wat daaronder geskryf staan. Hierdie is op haar rekenaar vasgesit met prestik en sy sê ook dat sy baie hou van die vlaggie en die naam. Maar eintlik het sy my die onderste prentjie gewys en gevra of sy vir julle dit kan wys. Ek het ingestem, want dis so mooi, maar toe sê sy ‘n iets van, “ons sal maar moet kyk of daar tyd gaan wees om elke dag ietsie op jou blog te sit, want more is ek terug in die hok.” Ai, ek het nie mooi geweet van watter hok Ounooi praat nie, maar sy sê ek moet net die woord “teacher” verstaan, dan weet ek na watter hok die “teachers” gaan. My ore het sommer slap gehang en my oë ondertoe-boontoe en ek het steeds nie mooi geweet nie, want ek wil nie vir Ounooi in ‘n hok sit nie. Die marmotte is in ‘n hok en ek weet nie of Ounooi ook daarin gaan pas nie. Ounooi sê toe “nee man, poepies, ‘n skool!” – ai tog, dis maar swaar as jy nie mooi weet nie, maar ek dink as Ounooi weet, dan’s dit reg.

DSC02585

Ounooi en ek het besluit ons sit vir julle nog twee foto’s op voordat sy hok toe moet gaan. Julle sal onthou van die sokkerbal wat my so grooooooooooot eina laat kry het. Ounooi was mos so slim om vir Oubaas te vra om dit af te haal en in die helfte te sny sodat ek dit kan kou. Toe kom Ounooi weer met ‘n slim plan. Oubaas het die helfte terug gehang aan my geliefde bloekomboom, maar die keer sommer baie laag, sodat ek die bal maklik kan bykom, ek kan nou sommer sit en byt ook. Hierdie foto’s het Ounooi vanuit haar kamer gesteel, sy was weer bang dat ek gaan ophou speel as sy dit onder kom neem. Sy’s ‘n regte mammarazzi! Sy steel aanhoudend foto’s van my! Sie Ounooi! Kyk net hoe lekker speel ek met die halwe bal. Ek stoot en trek dit en los dit dat dit so heen-en-weer swaai. Dis vir my baie snaaks.

DSC02586

Kyk net hoe reguit staan my stert soos ek met die bal tekere gaan. Dis nou sommer ‘n baie lekker speletjie en ek het Ounooi iets hoor sê soos, “dit hou haar darem lekker besig! Sy speel darem vir ure met die stuk bal en sy “gooi” hom selfs eenkant toe. Kyk net hoe draai sy al in die rondte met die ding, dis ‘n wonder sy’s nie dronk na al daardie gedraai nie!” Sjoe, Ounooi weet net nie hoe dronk kan ek raak nie, maar dis te heerlik. As ek moeg raak, is dit ook maklik om net te lê en speel ook, ek is partykeer ‘n lui-honne en lê net en kou aan dit. Julle moet tog nie so lui soos ek wees nie. Hier onder kan julle sien hoe ‘n lui-honne lyk! maar eintlik het ek gewag vir die swaaiende bal om weer na my toe terug te kom…ai, dis swaar om lui te wees! [hehe]

DSC02574