‘n Lang rit

IMG_1936

IMG_1937

Hallo! Ek het net gou weer kom inloer en wil net sê dat ek nog die lewe geniet. Ek raak nou net ‘oud’ soos Ounooi deesdae vir my sê. Ek het 2 dae vir Poplap gaan kuier en sy is nou byna 3ure se ry van my af. Sjoe! Dis regtig ver vir ‘n hond soos ek, maar Oubaas sê dat ek sulke lang ritte nou ‘beter vat’. Ek weet nie wat dit beteken nie, maar dit moet seker iets ‘goeds’ wees as hy so sê. Op die pad het Oubaas net twee keer gestop en my laat bene rek en ek was so dors! Ek het ook so bietjie dronk gevoel in die begin en moes my maar lekker inhou om nie op my matras ‘n ‘gemors’ te maak nie. Gelukkig was ek darem okay later aan en het ek meestal geslaap. Toe ons by Poplap aankom, kon ek haar dadelik ruik toe ek by die voordeur inkom en het ek geweet waar ek was! Ek het sommer gou tuis gevoel en ‘n bal gesoek wat iemand vir my moes gooi, maar o wee! Ek kon dit nie lank hou nie, toe wil my oë net toeval! Op die eerste foto sal jy sien hoe hard ek probeer om my oë oop te hou en op die tweede foto was ek sommer weg! Skaars 5 minute na die eerste foto geneem was! Ek het sommer vir ure geslaap. Sulke lang ritte is uitputtend vir honde van my ouderdom en ek is ook nie meer vandag se hond nie. Gelukkig weet Ounooi en Oubaas dit en laat hulle my baie rus. Honnegroete! Ek gaan nou eers weer ‘n bal soek.