‘Ruff’ Tuff en ‘Notty’ Dotty

‘ruff’ Tuff en ‘notty’ Dotty

Hierdie is twee nuwe maatjies! Ounooi het my so pas van hulle vertel. Eintlik het ek al lankal van hulle gehoor. Ounooi en hulle Oubaas kuier lekker op die blog en twitter. Ek dink Ounooi het ‘n voëltjie iewers, want ek hoor haar nogal baie praat van twitter en ek het nog net gehoor van voëltjies wat twitter en tweet – dis as die voëltjies hier by ons so in die oggend raas, dan hoor ek Ounooi dit sê. Hierdie twee honnes is baie oulik en hulle Oubaas word “Little Indian” genoem. Ounooi hou baie van Indiane. Sy het eenkeer ‘n boek gelees vir kinders, die boek se naam was “Die Rooihuid in die kassie” en ek het haar daaroor hoor praat ook. Ek dink Tuff en Dotty se Oubaas moet seker familie van daardie Rooihuid wees. Ek wonder wat probeer Tuff en Dotty hier vir mekaar sê? Dit lyk asof hulle baie graag bymekaar wil wees! Oeee…Oubaas roep my alweer! Ek hoor iets soos geel rek en ek is gaande oor my geel rek!  O ja, Tuff en Dotty bly in Sussex.

My Skelmbosh-e maatjie

Wat ‘n pragtige foto! Woef! Woef! Ek kon nie glo wat Ounooi hier vir my gewys het nie. Ek het weer gekyk en weer gekyk en weer gekyk. Langs my rug het sulke kriewelings gegaan, ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Die honne op die foto is net te mooi en daardie agtergrond! Ek het die foto ook bietjie gelek, ek het my nat snoet daarteen gedruk en my asem het sommer so ‘n bol wasem op die foto gemaak, toe moes Ounooi eers die lap vat en bietjie afvrywe. Sy het sommer met my gemoan ook, gesê ek moet met my bal op die trappe gaan speel. Ek was sommer vies, ek wou nog gekyk het! Ek sal maar weer moet terugkom om weer te kan kyk. Ek gaan nou maar eers speel. Die maatjie bly in Skelmbosh en haar naam is ‘Emily’. Sy tik graag la-ng stories oor al haar ‘kattekwaad’ en ek en Ounooi geniet dit altyd. Ek woef gewoonlik as ons dit lees. Skelmbosh is ook een van my gunsteling plekke. Wel, ek dink so, want dis een van Ounooi se gunsteling plekke, dus sal dit myne ook wees. Alles wat Ounooi sê is reg en lekker.

Gee my skuim en ek’s ‘n gelukkige honne

Wanneer Ounooi gereedmaak om te bad, kan ek myself nie help nie, ek moet altyd daar wees om bietjie skuim te eet! Ounooi wonder waar die gewoonte vandaan kom, maar sy vergeet dat sy dit as ‘n speletjie begin het toe sy eenkeer so diep onder die water in die bad gelê het. Hier sien julle my, die water tap nog in, maar ek moes al my lekkies inkry!