Van Keiser en bad

DSC08479

Sjoe! Hier’s ek weer – na ‘n lang tydjie weg van al die aandag! Hier kan julle my sien lê op my bed. – die bank wat Ounooi-hulle intussen afgeslaan het vir my operasie. Hier kan julle sien hoe lekker ek kan lê en deur die eetkamervenster vir Ounooi-hulle kyk wanneer hulle eet. Partykeer raak ek ongeduldig, dan staan ek met my pote op die vensterbank en loer vir hulle deur die venster. Ounooi het juis hierdie foto geneem terwyl hulle besig was om heerlik aan spek-en-eiers te smul en hulle weet net nie hoe het daardie reuk my reukkliere laat kriewel nie!

DSC08476

Hierdie foto is so drie dae gelede geneem. Ounooi het vir my van Koningskind vertel en ek kon nie glo wat ek hoor nie. Waarom kan iemand nie ‘n storie oor my skryf nie. Keiser is so gelukkig dat daar ‘n storie van hom geskryf is. Ek het my koppie al die kante toe gedraai soos ek hom geskud het en vir Ounooi gesê ek hoop dat ek ook in ‘n storie kan beland soos Keiser.

Ounooi gaan nou julle so bietjie bederf met nog ‘n stukkie van Keiser! Ai, wat moet ek tog doen om in ‘n storie te kom!

Hoofstuk 2 gaan oor Koos – die kat. Julle moes so bietjie van hom al gelees het. – as jy nie het nie, dan mis jy uit! Sien die vorige inskrywings met die bladsye uit die boek ingeskandeer. Koos was net bietjie flou geskrik en aan die begin van hoofstuk 2 word hy met bietjie water bygebring. Keiser het ook van LAG in hoofstuk 2 geleer. Poplap het hom dit geleer, maar ook van huil. Poplap se pappa het ook haar duidelik laat verstaan dat hy nie Keiser in die huis wil hê nie, want Keiser was nie ‘n skoothondjie – soos Vasti – nie.

Hoofstuk 3 – bl 17,18

Water en werk

Vasti en ek het mekaar maar min gesien. Soos Pappa gesê het, was sy ‘n skoothond. Nie dat ek kon verstaan wat dit eintlik beteken nie. Al wat ek kon sien, was dat sy baie lang hare aan haar lyf gedra het en dat dit haar anders gemaak het, want Piet moes haar altyd tussen sy bene vasknyp en dan daardie lang hare met ‘n borsel skoonmaak.

Piet was nie daardie eerste dag daar toe ons van Sheba af gekom het nie. Hy was ook seker nie ‘n skoothond nie, want ek het maar min gesien dat hy in die huis ingaan. Eintlik was hy glad nie ‘n hond nie, want hy het net soos Ousie gelyk. Piet het ook gesê ek is baie lelik, maar dit het my min gepla, want Poplap was lief vir my, lelik of nie.

Piet en ek het lekker gespeel. Hy was altyd buite die huis besig en kon vreeslik snaaks wees. Partykeer het hy ‘n lang ding opgetel en dan die grond daarmee omgekeer. Dit kon hy vir lang rukke aanmekaar doen en ek het hom daarmee gehelp. Toe ek groter geword het, het ek met my pote gehelp om die grond vir hom om te keer. As hy dit so omgooi, het ek dit vir hom platgekrap!

“Keiser!” het hy dan hard gesê, “jy help my regtig baie, want as ek hierdie stuk grond klaar omgespit het, sal ek jou weer van kop tot tone moet gaan was!”

As ons klaar is, het hy altyd ‘n groot bak met water gaan haal en my daarin gesit. Dan het hy my hele lyf lekker hard gekrap, my ore gevryf en ook my los lippe skoongemaak! Ek weet dat Poplap ook bly was dat hy dit gedoen het, want sy het lekker gelag as Piet my so skoonmaak.

“Ek sien Keiser het weer gehelp tuinmaak, Piet!” het sy dan altyd gesê. “Dankie dat jy hom skoongemaak het.” Dan het sy ‘n growwe lap gaan haal en my hele lyf daarmee gevryf. Ek weet nie of Vasti daarvan hou as hulle haar met daardie borsel vryf nie, maar hierdie vrywery met die lap was baie lekker.

………

Ek het baie keer by baie plekke water gedrink. Dit was nie so lekker soos die water van Poplap vir my in ‘n bak gegooi het nie, maar daar was iets in daardie water wat vir my baie snaaks was.

Die eerste keer toe ek daar gaan water drink het, het ek iets sien beweeg. Terwyl ek nog so hap-hap aan die water, het daar skielik voor my oë ‘n klomp goed in die water opgekom. Ek wou een vang, maar ewe skielik het hy weggeraak! Toe skrik ek en hardloop sommer so trap-trap met al my bene! Later het ek weer gaan kyk, maar daar was niks nie. Toe begin ek weer hap-hap. En skielik is daar ‘n klomp van hulle! Ek moes net weet wat dit is. Hoe kon die goed net wegraak. Ek het in die water geklim en my kop onder die water ingedruk. Maar ek kon niks sien nie. Toe voel ek iets aan my lyf. Dit het onder my gekielie, toe teen my bene. Ek het na die water gehap, maar kon niks in my bek vang nie…[word vervlog]

DSC08429

Hier kan julle my sien – ‘n regte nat honne. Poplap het my laas naweek gebad en hier voor die kaggel droog gemaak. Ounooi het gesê ek lyk soos ‘n natgereënde hoender! Wat is ‘n hoender!

4 Responses

  1. Zandie, ek dink jy net so gelukkig soos Keiser . Hy het nou wel ‘n boek, maar hy het nie so oulike blog soos jy nie🙂

  2. Dis regtig ‘n dierbare storie. Se tog dankie vir jou Ounooi, dis seker baie moeite. 😉

    Zandie, jy word nou ‘n mooi hond. ‘n Vrou, so to speak. :mrgreen: Daai ogies…wie sal nie daarvoor swymel nie. Zumie is nou ‘n groot lummel, maar op ‘n baie ruwwe manier nogal heel handsome. Eendag is eendag… 😉

    • hi Ounooi Vlam! Sjoe, jy laat my nekhare sommer nog dikker laat staan met daardie mooi woorde. Ounooi dink ook ek lyk bietjie meer “vroutjie” met my dikker pels. Ek hoop ek kan Zumie eendag ontmoet…mens weet nooit…🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: