M25 M40 Amersham

DSC01707

Liewe land, ek het verskillende talente waarvan julle nog min weet. Hier’s ek in aksie te siene waar ek op die bal af geduik het. Ounooi sê ek duik soos ‘n wafferse no9 rugbyspeler op hierdie tennisbal af, toe sê Poplap vir haar iets waarvan ek net mooi niks weet nie, “ek weet hoekom no9! dis daardie ou boyfriend van mamma wat skrumskakel gespeel het.” Ek het maar net stil gebly en gemaak asof ek niks gehoor het nie. Wie wil nou in elk geval weet van no9 as jy eerste kan wees! Ounooi sê sy sal vir my skree as ek ‘n Springbok word, ek sal dalk ook seker dan nie gekeur word vir die span nie, ek het gehoor van allerhande “dinge” waarna hulle kyk en ek dink nie ek gaan kwalifiseer nie. Ek dink as julle net na my gesig kyk dan sal julle dadelik weet waarvan ek praat.[hehe]

P3260161

Hier wil ek julle bietjie baie ou foto’s wys wat Ounooi-hulle van Amersham geneem het toe Oubaas daar begin werk het. Dis nou al ‘n jaar gelede en die van julle wat nie van Amersham weet nie, dis net om die draai hier by ons. Ounooi-hulle het hier in ‘n bos gaan stap wat amper soos ‘n woud is. Sy sê iets van Louis Trichardt, dat hierdie haar so herinner waar hulle met vriende gekuier het.

P3260140

Ek weet nie wat dit met Ounooi is nie, maar as sy iets sien waar “Chess” op staan, of wat lyk soos “Chess”, dan moet daar altyd ‘n foto geneem word. Dit kan maar ook net klink soos “Chess” dan sal sy dit ook wil afneem. Ek moet julle nog my skaakfoto’s wys. Ek wou so graag speel, maar toe besluit ek dat skaak nie vir “my” is nie.

P3260153

P3260160

Ek het na hierdie foto’s gekyk en baie woefe gewoef. Ounooi-hulle was by ‘n baie mooi plek en sy’t gesê omdat ek nog steeds kan “poot” en nie daarvan vergeet het nie, gaan sy my na hierdie mooi plek vat vir ‘n stappie. Sy hoop net dat dit nie so modderig sal wees soos die dag toe die foto’s geneem is nie.

DSC02090

Ounooi was regtig stout toe sy onlangs na haar haarkapster in Osterley – waar ons voorheen gebly het – gegaan het. Sy het die hele ent pad alleen gery en foto’s geneem terwyl sy bestuur het! Sjoe!! Julle mag dit net nooit doen nie. Ek het so met haar geraas. Sy het nooit gedink aan kameras wat haar kon afneem waar sy met een hand bestuur en met die ander hand hierdie massiewe kamera vashou en afneem! Wat daarvan as iemand anders haar met sy selfoon afgeneem het en haar gaan rapporteer, dis mos ‘n groot gevaarlike ding om te doen op die pad. Ek weet nie hoe Ounooi se breins werk nie, soms dink ek sy het te veel en dan werk party van die selle in ‘n ander rigting, moet my nie vra watter rigting nie, maar hulle is heeltemal uit hulle breinselle uit en as hulle uit is, is dit moeilik om hulle terug te kry, so opgewonde is hulle.  Oubaas mag net nie hiervan weet nie, julle moet asseblief doodstil bly hierhoor. Sy is maar te bly die Ingilse kan nie Afrikaans lees of verstaan nie, want dan sal sy punte verloor of dalk in die tjoekie moet gaan sit. Oubaas het die ander dag ‘n boete gekry vir te vinnig ry en hy het ‘n keuse gehad. Hy kon die £60 betaal of ‘n Saterdag-kursus gaan doen oor hoe om veilig te bestuur. Hy het toe die kursus gekies, want hy het toe reeds ‘n boete ook betaal nie lank terug nie en hulle trek punte ook af van jou lisensie as jy die boete betaal, maar nie as jy die kursus doen nie. Hy was die hele dag – van 9uur tot 6 uur by die kursus. Hy het gesê hy was so bly oor die kursus, want hy het so baie ander dinge ook geleer en gesê hy wil die gevorderde kursus ook gaan doen. Ounooi het geweet sy is al die jare nog die een wat beter bestuur en alles weet.[hiehiehie]

Op hierdie boonste foto kan julle sien hoe bly sy, soos ‘n getroue goedgemanierde bestuurder, in haar regte baan, die een wat lei na die M40. Party bestuurders weet dat die baan bietjie vinniger is, maar waar die M40 split, moet hulle weer indruk om op die baan te kom om op die M25 te bly en dis juis nou hulle wat hierdie M40 baan ook baie stadiger maak as wat hy moet wees, maar gelukkig is dit nie ‘n baie lang ent nie en Ounooi is maar geduldig om die paar kilometers bietjie stadiger te ry. Sy sê haar siel kry bietjie rus dieselfde tyd, want die mense jaag so, jy sal nie glo nie, sy vertel my ook van vragmotors wat jaag. Ag nee, hulle is sommer stout. Ounooi hou baie van die manier waarop hulle die spoed op die snelweë reguleer en vir jou ook boodskappe ver vooruit gee oor paaie wat gesluit is, dan het jy nog genoeg tyd om ander afritte te neem. Hier kan julle sien het hulle die spoed afgebring na 40m/h en op borde links sê hulle “Stay in lane, queuing”, maar party mense wil net nie luister nie.

DSC02092

Wat ‘n verligting,  hier kan julle vir Ounooi op die M40 sien, ek bedoel, julle kan haar nie sien nie, want sy’s alweer besig om foto’s te neem. Die verkeer was darem baie minder en sy kon weer asemhaal. Oubaas sê altyd vir haar om vinniger te ry, maar Ounooi sê haar dae van wild ry is lankal verby. Sy het juis vir Oubaas vertel hoe sy in Pretoria se strate rond gejaag het, sy gebruik die woord “dice”, maar ek weet nou nie wat dit is nie, ek ken baie meer Afrikaans as Engelse woorde. Sy sê net sy het baie in Voortrekkerstraat ge-“dice” met die ander ouens, veral as dit so bietjie laterig in die aand was. Sjoe, sy kon darem baie “dice”, ek dink ek moet ook begin “dice”, want dit klink of dit vir Ounooi lekker was en dit kan dalk vir my ook lekker wees.

DSC02095

Hierdie volgende twee foto’s is hier in Amersham-rond geneem. Ounooi kan nou nie vir my meer sê watse gebou hierdie is nie, sy het net gedink dis ‘n “netjiese” gebou, sy dink dit is ‘n hotel. Ek is nou nie seker wat ‘n hotel is nie, toe sê Ounooi vir my dis amper soos waar ek nou bly, want ek kry hotel-aandag. Sjoe, ek wonder of iemand dit vir my kan verduidelik.

DSC02096

Hierdie pub op die hoek se naam is “The Boot & Slipper”, ek dink dis te oulik. Ounooi het ook so gedink en dit ook so in die ry afgeneem. Sy het by hierdie pub links gegaan – julle kan seker die ronde wit kol in die middel sien, dis nou ‘n “roundabout” of wat ook ‘n “sirkel” genoem word. Ounooi sê hierdie land is vol “roundabouts” en sy het nog net een enkele stopteken gesien en dit was naby Twickenham gewees.

2 Responses

  1. Sjoe! maar ounooi is ‘n rowwe kalant! As die spietkop haar vang sal sy vir ‘n week moet kursus doen met daardie kamera tricks van haar. Ek moet ook maar bieg, het dit ook al gedoen🙂

    • hi Oubaas Connie, jong, dit klink vir my ook so as ek na haar stories luister, sy kan jou baie vertel van jaag.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: