Van muise en muishonde

pikkie 001

Aita-patata! Het ek nou ‘n heerlike agtermiddag gehad. Ek het op Ounooi se skoot gesit terwyl sy te heerlik deur al haar “sweet memory”-boks goete gegaan het. Sy het sulke heerlike stories vir my vertel van elke ou foto’tjie vertel en elke ou foto’tjie het sy eie staaltjie gehad. Dis darem te lekker as Ounooi in so ‘n bui is, want dan hoor ek al die stories van lank-lank gelede en sy lag tog te lekker as ek elke keer woef sê vir alles. Ek het almal ook ‘n lekker lek op die foto’s gegee, net om vir hulle te wys ek weet nou van hulle. Ek het net die hele tyd gewonder wat lank-lank gelede met my gebeur het. Ek dink Ounooi sal my seker nog eendag vertel. Kyk net na hierdie foto’tjie van Pikkie. Hy was Ounooi-hulle se eerste woef na hulle getroud is. Hier was hy sommer nog ‘n baba – nes ek nou is. Pikkie was ‘n kruis tussen ‘n worshond en ‘n foxie. Ek weet darem al wat kruis is en ek gaan nog baie bene kruis! – ek hoop julle het my foto gesien waar ek ‘n been wou kruis. Pikkie was baie slim en baie vinnig en kon baie hoog spring, maar eendag het hy te hoog probeer spring en toe maak hy sy rug seer. Daarna kon hy nie meer so hoog spring nie, maar hy was Oubaas se beste, nee, sy heel, heel beste waghond ooit. Oubaas weet net nie van my nie, ek dink ek gaan ook die heel, heel beste word. Ounooi het baie lekker vertel hoe slim Pikkie was met bye en muise vang. As daar ‘n by in die omgewing was het hulle Pikkie geroep en “waar’s die by” vir hom gesê en dan het hy blitsig die by gesoek en hom in stukkies met sy tande gebyt, terwyl sy bo-lip so opgetrek het. Hy het geweet bye kan steek, maar hy het ook geweet hy moet hulle doodmaak om Poplap-hulle te beskerm. Pikkie was ook die heel, heel beste met muise in die koshuis waar hulle gebly het. Eendag was een kombuis-tannie so bang vir ‘n muis, toe sê Oubaas, “wag, ek kry vir Pikkie.” Pikkie het sommer een, twee, drie die muis gevang. Hulle het net vir hom gesê, “Pikkie, waar’s die muis!”  Toe het Pikkie agter elke kas en hoek begin soek en in ‘n japtrap die muis gekry. Sjoe, Pikkie was darem regtig oulik. Hy bly nou by ‘n ander Oubaas en hy het intussen ‘n pappa-hond geword. Ons wonder of hy nog leef.

sasha

 Saam met Pikkie het Sasha gebly. Kyk net hoe lekker sit sy hier in Poplap se stootwaentjie! Jitte, dat sy darem ‘n koningslewe gehad het, kan enige woef sien. Ek dink ek is nou te swaar vir so ‘n waentjie. Ounooi sê ek sal die hele  waentjie vol lê, want my lyf het al baie groot geword. Sasha het baie daarvan gehou om so in die waentjie rondgestoot te word. Sy was ‘n miniatuur doberman-honne en dit lyk vir my maar of sy klein was. Ounooi het miniatuur baie mooi aan my verduidelik, dit klink maar vir my of sy so groot soos ‘n vuurhoutjie se kop was, as jy na Ounooi luister. Sy was ook sommer ‘n baie goeie waghonne en het baie gou gehoor as daar geluide was wat nie daar moet wees nie en sy het baie keer vir Pikkie ook gehelp. Haar mondjie was maar klein en Ounooi sê sy het net die heel sagste beentjies gekry. Sy was baie slim ook. Sy is in 2007 oorlede, net mooi 2 dagies voordat Ounooi-hulle haar weer sou gesien het. Sy was al bietjie ouerig gewees.

pikkie1

 Kyk net hier vir Pikkie. Hy het in die veld naby die koshuis ‘n muishond gevang! Die stoute muishond! Hy het in ‘n dik besproeiingspyp gekruip en Pikkie het hom mooitjies daar gaan vang. Poplap en Boeta was nog sommer baie klein en hulle het vir Sasha baie mooi vasgehou sodat sy nie bang kon wees nie. Oubaas het die muishond hoog op die trekker-buitebande neergesit sodat Pikkie die ding nie weer kon beetkry nie. Kyk net hoe opgewonde is Pikkie, hy wil sommer weer die muishond beetkry, maar hy weet net nie, daardie muishond kan stink! en hy was al dood, maar Pikkie wou seker vir almal gewys het. Hy is sommer ‘n brawe honne. Ek voel nogal jammer vir die muishond. Ounooi sê sy het nie na die muishond gaan kyk nie, want sy hou nie van dood nie.

Jackie slaap

 Ag moederliefie, kyk net hierdie ou baba-honne-ponne. Hierdie honne was Ounooi-hulle se Jack Russel in 2003. Dit was nog in SA. Jackie was die oulikste ou Jack Russeltjie, sê Ounooi. Almal wou haar ook net altyd hê – soos hulle ander honne en vir my. Almal wil net vir my drukkies gee as hulle my langs die pad sien. Sy sê Jackie het sommer gou-gou geleer om te sit en te poot. Sy het haar binne 20 min met rosyntjies geleer, maar eers baie later uitgevind hoe sleg rosyntjies vir honne se harte is! Julle moet asseblief nie rosyntjies vir julle honne gee nie.  Jackie het vir ‘n operasie gegaan in Aug 2003 en toe is sy sommer onder narkose oorlede. Ounooi sê hulle het so gehuil oor haar. Die vee-arts het gesê dit was omdat haar hartjie bietjie swak was. Sy was ook ‘n kruis-honne. Jack Russel en Foxie. Ounooi sê Jackie was baie goed met balvang en bal bring. Ek dink ek gaan ook nog goed raak daarmee. Sy sê ook dat Jackie haar oral gevolg het en haar nooit vir een minuut alleen wou los nie, selfs in daardie plek waar jy jou privaatdinge doen! Sjoe! Jackie! Jy het Ounooi darem goed opgepas.

Jackie2

Kyk net hoe heerlik lê sy hier in haar mandjie. Ounooi sê sy was hier nog amper ‘n baba-honne. Julle sien seker hoe sy daardie manjie gekou het. Ounooi sê dis ‘n broodjie-mandjie en sy het haar die mandjie laat kou vir haar tandjies wat altyd so gejeuk het wanneer hulle uitgekom het. Dan het sy nie die meubels gekou nie. Sy was baie lief vir die mandjie, ek kan dit sommer sien. Ounooi sê hulle het haar ook soort van gered, want waar sy by haar mamma gebly het, was sy so vol bosluise. Ounooi sê hulle het seker oor die 100 bosluise van haar afgehaal, almal piep kleintjies en toe vat hulle haar vee-arts toe en die vee-arts het ook omtrent 50 ander afgehaal. Sy was seker baie bly dat die bosluise van haar afgehaal was. Ek weet nie mooi van bosluise nie, maar Ounooi het gesê sy sal vir my wys hoe hulle lyk en dat hulle nare goete is.

DSC01649

En hier…is nommer 4. Dis nou ekke, vir die van julle wat nog nie weet hoe ek lyk nie. Kyk hoe lekker snuif ek die lug, ek hou sommer my ogies styf-styf toe.

8 Responses

  1. OunooI-hulle het darem baie slim honne gehad. Ek is seker een van die dae gaan Oubaas saamstem dat jy nog slimmer as Pikkie is. Kan jy glo poplap was ook so klein dat sy in ‘n waentjie gepas het?

    • hi Oubaas Connie, ek dink ook hulle was slim. Ek kan skaars glo dat Poplap ook in ‘n baba-waentjie gelê het, sy moes ook seker soos ‘n vuurhoutjie-kop gewees het, want sy sal hom nou vol lê, nes ek. Oubaas sê sy was so klein sy het sommer so op sy een hand gepas, sjoe! Ek dink dit is kleiner as ‘n vuurhoutjie se kop!🙂

  2. What in the world is going on, on the third picture from the top?

    • Hi Master Dan, this is a mongoose! Pikkie, the dashund killed this mongoose! He found it in a water pipe. He was a clever dog (like me!) and he was so excited about this animal he killed. He was a dashund-fox cross. He was really good at killing honey bees before they could sting you…even mice! He knew exactly what they were if you said “mice”, then he would wake up very quickly, even 3am in the morning he! He could show any hunting animal a few tricks. This mongoose was pestering other animals… and Poplap and Boeta was looking at his killing, but Sasha just turned her head away..she didn’t like killing or dead things. I think she was looking for a bone…if you ask me.🙂 The mongoose was put on a tractor tyre…high enough for Pikkie not to reach it, but I think you can see how excited he was to get it.

  3. Zandie, dis nou wat mens ‘n ‘geskiedenis-les’ noem. 😉

    Jy het groot spoortjies om vol te staan, my honne!

    • Haai oe, Ounooi Boendoe, ek weet nog nie van geskiedenis-les nie, maar Ounooi leer my elke keer alles as ek vir haar sê van iets waarvan ek nie weet nie. Ek het sommer groot spore om vol te staan, maar my eie spore is ook groot, jy moet net sien as ek in die modder trap hoe groot spoor bly daar sit. 🙂

  4. Stem saam met Boendoe Zandie jy het nou klomp spoortjies om vol te staan. Dit lyk egter of jy talente het wat die ander nie gehad het nie en dat jy jou eie unieke brakkie vir jou huismense is.

    • Hi Ounooi Sandra, ja, ek het sommer baie spoortjies om vol te staan. Dit is ook so, ek het ook baie talente en Ounooi sê een is om so vinnig te leer. Ek weet sommer ‘n klomp woorde al en hulle is almal net in Afrikaans. Ek moes in die begin ook gewoond raak aan die Afrikaanse aksent, maar dit was nie ‘n probleem nie, dis juis een van my talente, om dit sommer gou-gou te leer.🙂 Ek weet nog nie mooi van uniek nie, ek dink ounooi sal my dit vandag leer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: