Hier is ek! – Here am I

DSC01480

Hallo! My naam is Zandie. Dit het Poplap self gesê. Ek het eers ‘n anner naam gehad. Ek het nie baie van die naam gehou nie. Anner mense wat my seer gemaak het, het my Cindy genoem. Ek was nie baie gelukkig nie. Ek het ‘n regte hondelewe gehad! – as jy weet wat ek bedoel. Ek het nie lekker gevoel nie en die meneer het so erg tekere gegaan. Die mevrou was nie baie lekker nie en het net so tekere gegaan. Gelukkig het Poplap oor my lewe geloop. Die eerste dag toe haar hande my vashou, het ek geweet ek gaan gelukkig wees. Haar stem was ook sag in my ore en sy het sulke snaakse geluidjies gemaak. Ek weet nie wat dit was nie, ek weet net dit het my lekker laat voel. Ek het haar baie gelek. Ek dink sy het daarvan gehou, want sy het dan weer sulke snaakse geluidjies gemaak wat my ook laat lekker voel het. Poplap is slim. Sy weet net wat ek wil hê. Ounooi is ook slim. Sy moes baie ander honne groot gemaak het. Ek dink so. Sy weet presies wat ek wil hê en sy weet ook net hoe om die lekker agter my ore te gaan laat lê.

Die eerste dag by Poplap het ek geweet dat ek sommer lank gelukkig gaan wees en lekker gaan slaap. Sy het vir my ‘n ronde geel skapie gegooi. Ek het nie mooi geweet wat om met die ronde geel skapie te maak nie. Dit het soos ‘n skapie gevoel, maar ek het geweet dit lyk nie soos ‘n skapie nie. Poplap gooi dit vir my en sê dan: “bring!” Ek weet nie wat “bring” is nie. Sy wys met haar hand. Ek sien nie skapies nie. Ek moet leer om skapies aan te bring. Poplap gooi vir my net ‘n ronde geel skapie! Die ronde geel skapie wil nie doen wat ek wil hê dit moet doen nie. Ek het dit maar in my bek gevat en eenkant neergesit. Ek kon sien Poplap was nie tevrede nie. Sy het weer die ronde geel skapie gevat en neergegooi! Partykeer rol sy dit!  Ek het gestaan en wag en maar net gekyk. Ek staan graag by die boom en kyk.  Daar was net een ronde geel skapie. Ek het nie geweet wanneer Poplap vir my nog ronde geel skapies gaan bring nie. Ek dink Poplap is nie baie slim nie. Sy weet nog nie van skapies nie. Ek moet haar leer. Sy kyk na die ronde geel skapie en dan kyk sy vir my. Ek los net die ronde geel skapie eenkant. Poplap verstaan nie. Sy maak sulke snaakse geluide. Ek kan hoor sy weet nie wat om te maak nie. Ek moet vir Poplap leer van skapies en skapies bymekaar maak!

9 Responses

  1. Woef!

  2. LOL! 😆

    Welkom, Zandie!

  3. ‘n Foto ELKE dag? Jy’t jou werk uitgeknip… 😆

  4. Woof!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: