Ek lewe nog!

Ek het ‘n paar dae gelede so lekker gaan stap. Hier kan julle my weer poegaai gespeel sien. Op die foto is dit nie so duidelik sigbaar nie, maar ek lê daar op ‘n afdraende, wat beteken dat, as Oubaas vir my die bal verder ondertoe gooi, ek weer terug met ‘n opdraende hardloop om dit vir hom te bring. Dis bietjie unfair.

Hier is iets wat groen is, Ounooi het al vir my die kleure geleer. Ek kan my verskillende kleure balle uitmekaar ken, maar niemand anders wil dit glo nie! Hulle wil dit altyd eers sien, dan dink hulle, ‘Wow, dis so ‘n clever honne!’

Ounooi het gedink hierdie is ‘n lekker stoel om op te sit as jy moeg raak. Sy het baie gou moeg geraak, maar die stoel was nie naby nie!

Mooi bloeisels. Dis ‘n moeilike woord. Ounooi het dit ‘n paar keer vir my gesê, maar my tong is te lank om dit te sê!

Hierdie is geel. Ek ken my geel bal baie, baie goed!

Sien, hier is my geel bal! Ek het mos gesê ek ken my geel bal baie goed!

Hier is ‘n tonnel. Dit was nie groot genoeg vir my nie. Ek het darem groot geword, hoor!

O gonna, hier het my kop gedraai, Ounooi en Oubaas moes maar besluit waarheen!

Dis ‘n lekker wegkruipplek, maar ek is al weer te groot vir dit!

Hier het ek besluit ons moet huistoe gaan. In die ‘bos’ maak Oubaas my altyd vas, want hy weet nie altyd wie daar rondloop met hulle gedrogte nie. Daar is altyd baie ander honnes ook en sommige van hulle is aaklige gedrogte en ken nie hulle maniere nie.

Aaahhg, dis nou cute, is dit nie?

Poplap en haar vriende by die universiteit het nou ‘n hoender en eende en nou het ek ook van hulle geleer! Die stupid honne van langsaan het die een hoender doodgebyt, so ‘n simpel honne! Toe gee die stupid honne se baas die eende vir hulle. Die eende is nog bietjie wild!

Nou word almal gewaarsku! Daardie simpel honne ook!

Moenie ‘stap’ sê nie!!

Dis hoe ek lyk as ek kyk wat Ounooi doen wanneer sy sê sy het baie ‘skoolwerk’ wat gedoen moet word. Ek wil haar nie altyd glo nie, maar nou het ek self gesien! Iets sê steeds vir my dat sy nog steeds op blogs rondkuier!

Dis hoe ek vanaand lyk! Almal in hierdie huis het die woord ‘stap’ gesê! Ek het toe sommer weggehol en hier kom lê – en toe lag hulle vir my! Sie-a! Ek hou nie van daardie woord nie, dis ‘n vloekwoord vir my! Ek weet net een ding, ek is gek daaroor om in die oop ruimtes daar buite rond te hol – soos ‘n maer vark in die vlaktes! Oubaas gooi dan die bal vir my daar doer ver en my tong ek myle uit, so moeg is ek, maar moenie ‘stap’  sê nie!

 

Chompie red ‘n lewe


Hier is Chompie. Chompie moet eintlik vereer word. Chompie het ‘n lewe gered! Ouma-Ounooi het in die koue nag uitgegaan, gestruikel en onder die voertuig, wat naby haar woonstel se voordeur geparkeer was, beland en bly lê. Sy kon nie beweeg nie. Op daardie stadium was Ouma-Ounooi se heup ook gebreek met die val, maar het niemand dit nog geweet nie. Chompie, die held in die familie, het by die huis se voordeur gaan blaf, en blaf en blaf en blaf en blaf…vir baie lank totdat Ounooi-sussie uitgekom het om te kyk wat aangaan en daar wys Chompie aan Ounooi-sussie waar Ouma-Ounooi lê! Ouma-Ounooi was baie, baie siek daarna – van lank lê op die koue plaveisel, maar gelukkig het Chompie daaraan gedink om die res van die familie te gaan roep! Chompie is nou ook ‘n groot held vir Ounooi en ek sou graag eendag vir Chompie wil ontmoet. Ek hoop ek kan ook eendag ‘n held genoem word. Kyk hoe lekker lê sy hier op Ounooi se skoot, sy wou net heeltyd op haar skoot lê. Ek dink Chompie mis vir Ouma-Ounooi baie. Gelukkig word sy altyd gevat om vir Ouma-Ounooi hallo te sê.

Hier volg die nuus – deur…

Ounooi het so bietjie gaan kuier – sommer BAIE ver, ver weg van ons. Sy was nie baie lank weg nie. Toe sy terugkom, het ek eers nie dadelik besef dat sy vir ‘n rukkie weg was nie en skielik tref dit my! Toe wou ek haar net opvreet en sy moes net keer of ek wou sommer haar hare in haar nek stukke uithap van opgewondenheid.  Ek het sommer ook bietjie op haar skoot gelê en slaap – nie vir lank nie – maar dis nou iets wat ek nie sommer doen nie. Ounooi het my van AL die honnes vertel en gesê sy gaan nog baie nuus vir julle hê oor al die honnes daar in die land van Afrika. Sjoe, ek kon ook nie byhou met al die honnes nie, selfs ‘n kat ook! ‘n Kat! Ja, ‘n kat, wat muise vang en tooi. [hoor ek nou die liedjie van 'dapper muis' iewers?]

O ja, in hierdie foto’s is Hektor. Hektor is baie, baie, baie kwaai, maar Ounooi sê hy is so cute, sy wou hom net in ‘n tas pak en saambring! Oubaas lag net. Hektor is so bederf, maar dis ook omdat hy die hoof van ‘security’ is daar in daardie ver land! Hektor slaap op die bank in die sitkamer, by die voordeur. Hy word elke nag met sy lekker dik kombers van kop tot tone toegegooi! Kyk die foto!

Hektor sit by een van die poplappe op die bankie.

Hektor is vaaaa-aaa-aaak!

Hier is Hektor TOE onder sy kombers, van kop tot tone en weer tot sy kop! Ai, ek sal so lekker met hom kan speel!

Tjirts! Hier het Hektor wakker geword. Kyk net hoe gaap hy! Die bederfling! Sjoe…hou die spasie dop, meer honnes en ‘n kat gaan kom hallo sê en meer nuus sal aan julle voorgehou word. Ek het nou eers als gesien. Honnes wat so bederf word! Ounooi het so lekker gelag toe daar vertel [en gedemonstreer word] hoe Hektor kanse vat om op die beddens te slaap, spesiaal by Ouma-Ounooi. Sjoe, Hektor is darem ‘n oulike woefe!

Hoogtyd

Wat! Wie roep my en wek my hier uit ‘n diepe slaap?!

Droom ek, of wat? Ek is seker ek het my naam gehoor!

O! Dis Ounooi! Al weer met daardie ding wat kliek-kliek maak. Ek hou nogal van die ding, ek poseer graag vir ‘n foto!

Maar ek is nog so vaak!

Kyk nou net hoe glimlag ek vir ‘n foto!

En klaar is die foto-sessie! Nou kan ek verder slaap!

As Ounooi nou net wil loop, dan kan ek DALK weer aan die slaap raak! Die hoogtyd dat ek my eie kamer kry in hierdie huis waar ek my eie privaatheid kan hê.


Geniet hierdie animasie!

Brakkie-in-’n-mandjie

Hier is Jacie! Ounooi het my so pas als van Jackie vertel. Ek dink ek en Jackie sou heerlik saam gespeel het. Jackie was ‘n Jack Russell en sy was erg verwaarloos toe Ounooi-hulle haar gekry het. Bosluise oral – heeltemal oortrek van dit! Selfs piepklein rooies, so klein dat Oubaas ‘n vergrootglas moes vat om vir nog te soek. Ounooi-hulle het gereageer op ‘n advertensie en daar in Pretoria-Oos/[Noord] die brakkie gaan haal. Dit was ‘n hele werpsel en het oral rondgekruip. Oubaas, Poplap en Boeta het haar gaan uitkies. Ounooi was moeg en het in die kar bly wag. Toe die vuil, verwaarloosde brakkie vir Ounooi aangegee word, was dit iets verskrikliks. Ounooi kon nie wag om by die huis aan te kom om die arme brakkie te bad nie. In die kar het Ounooi ietsie lekkers vir haar gehad en sy het dit gulsig verslind. Tuis het Ounooi-hulle getel, maar by 50 gestop. Te veel bosluise om almal te tel. Jackie was veearts toe geneem vir ‘n ondersoek en die veearts het nog ‘n klompie verwyder wat Ounooi-hulle gemis het. Die goed was so klein en het so weggekruip! Jackie was een groot plesier vir Ounooi-hulle. Sy het nie – soos mense hulle gewaarsku het – al hulle ‘besittings’ opgekou nie. Sy was goed besig gehou – soos julle op die een foto kan sien. Die koshuis se rugbyveld was haar gunsteling speelplek. Daar kon sy ver hardloop vir die bal en almal het met haar gespeel. Elke krieseltjie energie is uit haar gewurg. Toe die babatandjies begin jeuk het, het Ounooi vir haar een van haar broodmandjies gegee! Kyk net op die foto hoe oulik pas sy daarin! Dit was haar gunsteling plekkie om te lê en knaag aan die mandjie. Ounooi het nie omgegee nie. Sy het nog gehad – en sou nog een vir haar opgeoffer het, as dit nodig sou wees. Ongelukkig is Jackie onder die operasietafel oorlede toe sy ‘reggemaak’ word. Die veearts het bitter sleg gevoel. Haar hart was swak en kon nie die narkose weerstaan nie. Later het Poplap uitgevind dat honde nie rosyntjies gevoer moet word nie!! Dis sleg vir hulle harte! En…Ounooi het rosyntjies gebruik om haar te leer sit/poot/boude. ‘Boude’ was as sy op haar agterlyf gaan sit het met voorpootjies gelig. ‘Sit’ was net gewoonweg sit. Jackie het vreeslik vinnig aan als geleer. Ounooi sê sy was bitter slim, maar dat ek so effens slimmer is as Jackie. Ek dink Ounooi weet nie mooi nie, ek dink Jackie was net so slim soos ek! Op die volgende foto kan jy sien hoe ver haar tong uithang van al die gespeel- en op ander foto’s hang haar tong nog verder uit! Oubaas-hulle het altyd gelag vir daardie lang tong wat die klein brakkie het.

Sonkol

Hierdie animasie is geskep op ‘n website: picasion. Ounooi het my slapie in die sonnetjie kom versteur met haar kamera. Sy weet sy het baie werk om te doen, sy kla en kla oor die baie werk wat haar wil naar maak, maar dan kom pla sy my! En die beste van als, toe ek begin rondkyk vir ‘n bal om vir my gegooi te word, toe verdwyn sy weer die huis in! Gmf!!

Slange vang!

Dis nou ekke, lekker bederf lê ek hier op Boeta se bed. Dis elke aand se storie. Een nag het ek lekker saam met hom hier gelê en slaap. Hier het ek nog gelê en slaap, toe kom pla Ounooi my met Ellimans. Ek het ‘n effense seer spier en sy glo Ellimans gaan vir my honnepoot help! Oubaas glo al die jare in Ellimans, selfs van die dae toe hy nog atlete afgerig het. Oubaas het weer die stupid bal [dis wat Ounooi die bal noem] aan die boom se tak gehang en ek het lekker hoo-oooog gespring om die bal by te kom. Toe ek ‘n klein honne was het die einste bal my rug seergemaak en Ounooi het haar oë uit haar kop gehuil, want sy was alleen met my die dag en ek het vreeslik geskreeu nadat ek geval het. Sy het gedink ek is verlam. Sy was darem baie, baie, baie kwaad vir Oubaas. Toe sy weer van die stupid bal hoor, wou sy van vooraf slange vang. Ek dink Oubaas moes ‘n paar van hulle gevang het, voordat sy hulle kon vang! Ek sê nou eers nag! Dis slaaptyd hier! Kyk hoe loer my een ogie vir julle!

Proffessor

Dames en Here

Kan julle asseblief julle sitplekke inneem, die vergadering gaan begin! Tyd is ongelukkig min en honnes kan nie vir ander honnes wag nie! Dankie, sal daardie meneer in die agterste ry ook sy sitplek nou kan inneem, sodat ons die vergadering kan begin!

Ai, nou is dit weer mevrou Kat wat nie kan ophou kla nie! Wat is haar storie nou weer vandag! Ek dink ons honnes moet haar sommer hier uitboener, sy mors ons tyd. My motorbestuurder wag vir my, ek het ‘n volgende vergadering wat wag!

Vandag

Ons het lekker ver gaan stap. Ek is lief vir stap, maar dis altyd ‘n ‘gesukkel’ om my uit die huis te kry, want sien, ek hou niks van die harnas wat ek moet aankry vir die leiband nie, maar sodra ek in die ooptes is, pla dit my min. Ounooi was slim, sy het net gou-gou die woord ‘kat’ gesê, toe’s ek soos blits uit die huis uit reg om in die kar te spring. Kyk net hier, so reg soos ‘n boer se roer!

Hier in Ingeland het die mense in die jare 40 [ek dink!] baie protes-optogte gehou en daarom is daar toe wette ingebring dat mens enige plek in die land mag stap, solank jy die reëls van die country-code volg en dit is om plekke nie te bemors nie en om op die stappaadjies te bly. Jy mag ook nêrens sommer net ‘n tentjie opslaan nie. Hier kan van die bordjies gesien word wat aandui waar jy moet loop/stap.

Hier by ons in die bos blom die ‘blue bells’ nou en Oubaas wou vir Ounooi dit kom wys het. Toe ek sien Oubaas gaan nie terugdraai nie, het ek duidelik vir hom begin wys dat dit tyd was om terug te gaan huistoe. Ek het elke nou en dan net so gaan lê, sommer so elke 20 tree! Oubaas was toe verplig om terug te draai en toe was ek darem bly hoor! Ek was al poegaai gestap en hy ken al my body language!  Ek dink julle behoort die fyn wit bloeiselblaartjies op die grond te sien lê as julle op die foto klik. Dit het heerlik soet geruik. Op die vorige foto kan julle die ‘blue bells’ sien. Klik op die foto om dit duideliker te sien.

Kapoet en mamoet

Ounooi het my nou so lekker moeg gespeel. Oubaas was bietjie slimmer. Hy het vir haar ‘n gholfstok gegee om my gunsteling bal mee te slaan en toe slaan sy sommer baie keer en elke keer sommer baie ver. Ek moes partykeer maar woes rondspring en selfs ander kere die bal binne-in kleinerige struike uithaal! Ounooi het my juis ‘n paar dae gelede gewys hoe om die bal uit een van hulle te kry, dus het ek my klimvaardighede goed toegepas hierdie keer! Julle moes my net sien! Ounooi moes nou eers vir julle wys hoe lyk ek as sy vir my sê: ‘Jou tong hang nou lekker lang uit, Zandie!’ Onmiddellik het ek geweet wat sy bedoel en slaat ek net daar neer – waar die foto’s geneem is! Ek het net gedag sy gaan nooit agterkom dat ek pê was nie! Dieselfde tyd wil sy ook hier vir julle die appelbloeisels wys. Hulle ruik darem heerlik! En arme marmot! Ons dink hy’s doof, want my bal het ‘n paar keer hard teen sy hok gebons, maar hy maak asof niks gebeur nie en ‘wei’ net aan! Hy skrik nie eers vir die bal nie. – of anders moet hy al my balspelery gewoond wees. Die ander marmot was bietjie skaam toe Ounooi die foto’s geneem het. Ounooi bly vir Oubaas sê: ‘Die grasperk is in ‘n toestand na al die sneeu,’ maar ek weet nog nie eintlik van ‘toetstand’ nie, Ounooi sal vir my moet verduidelik. Al wat ek nou wil doen is om by my bal te lê en wag vir die volgende speelsessie. [o ja, net na al die foto's geneem was, het Ounooi weer die bal vir my vyf keer geslaan, toe's ek nog steeds kapoet! Toe gaan lê ek sommer vanself by die marmotte se hok, sonder dat Ounooi iets vir my gesê het!]

Kwaaitjie

Sjoe, sulke honne het ek nog nie gesien hier waar ons bly nie. Ounooi wys my altyd allerlei soorte honnes op youtube, maar hierdie ene het ek nog nie gesien nie. Ounooi-hulle was gister na die Science museum toe en toe hulle uitkom, staan die honne by die straatnaambordjie en wag vir sy baas. Ek is bly sy het hom afgeneem, maar hy lyk so kwaai, ek weet nie of ander honnes [soos ek] naby hom mag kom nie. Ek wil darem nie geëet word nie. Ounooi het juis die ander dag vertel hoedat sy gesien het dat ‘n vrou se groot woef twee baba woefies wou hap en hap. Die baba woefies se baas het hulle nie eers opgetel nie, net weggepluk aan hul leibande. Sie a, daardie oubaas van die baba woefies het darem nie breins nie. Ounooi was woedend toe sy sien wat hy doen en die groot woef was nie eers aan ‘n leiband nie. Sommige mense moet ook eers na ‘n skool toe gaan waar hulle van troeteldiere leer.

‘Ruff’ Tuff en ‘Notty’ Dotty

‘ruff’ Tuff en ‘notty’ Dotty

Hierdie is twee nuwe maatjies! Ounooi het my so pas van hulle vertel. Eintlik het ek al lankal van hulle gehoor. Ounooi en hulle Oubaas kuier lekker op die blog en twitter. Ek dink Ounooi het ‘n voëltjie iewers, want ek hoor haar nogal baie praat van twitter en ek het nog net gehoor van voëltjies wat twitter en tweet – dis as die voëltjies hier by ons so in die oggend raas, dan hoor ek Ounooi dit sê. Hierdie twee honnes is baie oulik en hulle Oubaas word “Little Indian” genoem. Ounooi hou baie van Indiane. Sy het eenkeer ‘n boek gelees vir kinders, die boek se naam was “Die Rooihuid in die kassie” en ek het haar daaroor hoor praat ook. Ek dink Tuff en Dotty se Oubaas moet seker familie van daardie Rooihuid wees. Ek wonder wat probeer Tuff en Dotty hier vir mekaar sê? Dit lyk asof hulle baie graag bymekaar wil wees! Oeee…Oubaas roep my alweer! Ek hoor iets soos geel rek en ek is gaande oor my geel rek!  O ja, Tuff en Dotty bly in Sussex.

My Skelmbosh-e maatjie

Wat ‘n pragtige foto! Woef! Woef! Ek kon nie glo wat Ounooi hier vir my gewys het nie. Ek het weer gekyk en weer gekyk en weer gekyk. Langs my rug het sulke kriewelings gegaan, ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Die honne op die foto is net te mooi en daardie agtergrond! Ek het die foto ook bietjie gelek, ek het my nat snoet daarteen gedruk en my asem het sommer so ‘n bol wasem op die foto gemaak, toe moes Ounooi eers die lap vat en bietjie afvrywe. Sy het sommer met my gemoan ook, gesê ek moet met my bal op die trappe gaan speel. Ek was sommer vies, ek wou nog gekyk het! Ek sal maar weer moet terugkom om weer te kan kyk. Ek gaan nou maar eers speel. Die maatjie bly in Skelmbosh en haar naam is ‘Emily’. Sy tik graag la-ng stories oor al haar ’kattekwaad’ en ek en Ounooi geniet dit altyd. Ek woef gewoonlik as ons dit lees. Skelmbosh is ook een van my gunsteling plekke. Wel, ek dink so, want dis een van Ounooi se gunsteling plekke, dus sal dit myne ook wees. Alles wat Ounooi sê is reg en lekker.

Gee my skuim en ek’s ‘n gelukkige honne

Wanneer Ounooi gereedmaak om te bad, kan ek myself nie help nie, ek moet altyd daar wees om bietjie skuim te eet! Ounooi wonder waar die gewoonte vandaan kom, maar sy vergeet dat sy dit as ‘n speletjie begin het toe sy eenkeer so diep onder die water in die bad gelê het. Hier sien julle my, die water tap nog in, maar ek moes al my lekkies inkry!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.